Editor's choiceLocal newsNews

Hul liefde ken geen perke

Alhoewel die nood groot is, gaan dit beslis nie 'n demper op hulle vreugde plaas nie.

Vra vir verskillende mense wat dit beteken om verlief te wees en nie een antwoord sal dieselfde wees nie … maar elkeen se gedagte is duidelik; om verlief te wees is om in iemand se siel te kan sien.

Met die oog op Valentynsdag vertel die NUUS graag ‘n ware liefdesverhaal. Dis nie ‘n klassieke verhaal soos Shakespear se Romeo en Juliet nie, dis ook nie die een van verlore liefdes wat mekaar weer vind nie, en dis beslis nie ‘n soetsappige verhaal soos uit ‘n Hollywood-fliek nie.

Dis ‘n verhaal van vriendskap wat in liefde verander het en twee mense wat besluit het om die res van hul lewens met mekaar te deel.

Magda Marais en Seamus Ward se bestaan was tot dusver baie simplisties. Hulle is al vir 13 jaar ‘n paartjie en het onlangs aangekondig dat hulle wil trou. Hulle het duidelik die skoot hoog deur. Maar ongelukkig is daar, soos vir menige verliefde paartjie, ‘n paar struikelblokke.

Magda en Seamus het albei gestremdhede – nie net fisies nie, maar verstandelik ook. Die twee verliefdes is lede van die Wes-Rand Vereniging vir Persone met Gestremdhede (WRAPD).

Die NUUS het onlangs die paartjie gaan besoek wat op 12 Maart ewige trou aan mekaar gaan beloof.

“Daar is nie genoeg woorde om te beskryf hoe opgewonde die twee is nie. Hulle vriende hier is net so opgewonde en kan nie wag om hierdie spesiale dag met Magda en Seamus te deel nie,” vertel WRAPD-bestuurder Annalene Rossouw.

Ongelukkig het Magda en Seamus nie familie nie en is ten volle afhanklik van die WRAPD se hulp.

Natuurlik wil enige bruid pragtig lyk op haar groot dag en net die beste vir haar gaste voorsit.

“Maar die probleem is fondse. Ons het dringend fondse nodig om vir Magda ‘n mooi rok te maak, vir die heerlike eetgoed, vir vervoer na en van hulle wittebroodplek en vir blomme.”

Die paartjie wil ook in hul eie huisie op die WRAPD se perseel bly maar het ‘n nuwe bed, meubels vir hul kamer en gordyne nodig.

Alhoewel die nood groot is, gaan dit beslis nie ‘n demper op hulle vreugde plaas nie. Die troue gaan voort en die WRAPD gaan sorg dat hulle die beste troue moontlik vir die paartjie aanbied.

“Indien daar ‘n barmhartige persoon is wat ‘n behoefte het om te help, op watter manier ook al, sal dit met ope arms ontvang word. Skakel my gerus.”

Die gesegte lui wel “die liefde is blind” … maar dis omdat jy dan met jou hart kyk, en nie met jou oë nie.

Skakel vir Annalene by 011 660 7964/5 indien jy deel wil wees van Magda en Seamus se vreugde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button