Wat beteken die begrotingsrede vir jou
Jaarliks, gedurende Februarie, kondig die Minister van Finansies die regering se spanderings-, belasting-, en leningsplanne vir die volgende drie jaar aan. Maar wat beteken dit vir jou ?
Die begrotingsrede en al die syfers wat daarmee gepaard gaan soos op 26 Februarie voorgelees deur die Minister van Finansies Pravin Gordhan kan oorweldigend wees, daarom het die NUUS na die top punte gekyk wat die gewone man op se straat se beursie sal raak.
‘n Pakkie sigarette
Soos voorspel is nog ‘n styging in aksynsbelasting aangekondig en dus sal ‘n pakkie sigarette en ‘n drankie verbruikers nou meer uit die sak jaag as vantevore.
340ml bier sal 9 sent meer kos, Whiskey R4,80 meer ‘n bottel en ‘n pakkie van 20 sigarette sal 68 sent meer kos. Die prys van tradisionele bier bly onveranderd.
Brandstof
Die nagmerrie van die ewig-stygende brandstofprys is nog nie oor nie en volgens die Minister sal brandstof vanaf 2 April duurder wees.
Die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefondsheffing sal met 12c per liter en 8c per liter onderskeidelik vanaf 2 April verhoog. Dit sal die algemene brandstofheffing op brandstof opstoot na R2,25 per liter vir brandstof en R2,10 per liter vir diesel.
Maatskaplike toelaes
Die maatskaplike bystandsprogram is die regering se mees regstreekse manier om armoede te verlig. Oor die afgelope dekade het die aantal begunstigdes wat maatskaplike toelaes ontvang vanaf 7,7 miljoen in 2003/ 04 na 15,8 miljoen in 2013/ 14 verdubbel. Maatskaplike toelaes sal as volg verhoog word:
Staatsouderdomspensioen – R1 265 na R 1 350
Staatsouderdomspensioen, ouer as 75 – R1 285 na R 1 370
Toelae vir oudstryders – R1 285 na R1 370
Ongeskiktheidstoelae – R1 265 na R1 350
Pleegsorg toelae – R800 na R830
Sorgafhanklikheidstoelae – R1 265 na R1 350
Kinderonderhoudstoelae – R 295 na R315
Vir ‘n indiepte begrotingrede-gids besoek https://tinyurl.com/om3u96e.
