Die R500-pad, wat Carletonville met die N14-hoofroete tussen Krugersdorp en Ventersdorp verbind, moes onlangs inderhaas gesluit word na ‘n groot sinkgat meters van die padoppervlak ingeval het, skryf Carletonville/ Fochville Herald joernalis Adele Louw.
Volgens Judy Rossouw, ‘n raadslid wat in dieselfde area woon, het die gat Vrydagaand 21 Februarie omstreeks 9vm ingesak.
Dit is só diep dat die onderkant van ‘n telefoonpaal, wat geanker was op die grond wat ingesak het, skaars die bodem raak.
“Daarna het nog grond in die gat ingeval,” het Rossouw aan die Herald vertel.
Kort nadat die Gautengse padowerheid van die probleem in kennis gestel is, is die pad vir verkeer gesluit. Motoriste moet nou ‘n kort ompad op grondpaaie tussen hoewes in die area volg om dié gebied te vermy.
Hoewel die sinkgat nie in die pad self is nie, word gevrees dat dit verder kan insak en ‘n deel van die pad kan beskadig.
Ondanks dié feit het sommige padgebruikers dele van die padversperrings en plastieklint verwyder wat die paaiedepartement aangebring het om die pad af te sper. Baie van hulle ry nou doodluiters op die onveilige deel van die pad.
“Besef hierdie mense nie dat die pad te eniger tyd onder hulle kan meegee nie?” het ‘n ontstelde Rossouw gewonder.
Sover vasgestel kon word, het werknemers van die Gautengse paaiedepartement die betrokke stuk pad later só toegemaak dat padgebruikers nie meer die versperrings kon verwyder nie. Herstelwerk aan die pad sou op Donderdag 27 Februarie begin.
Die area waar die gat ingeval het, is bekend vir sinkgate. Die N14-hoofroete net ‘n paar kilometer noord was sedert 2008 tot verlede jaar as gevolg van ‘n sinkgat gesluit. Sinkgate het ook in dié tyd op ‘n alternatiewe roete net suid van die jongste sinkgat gevorm.
Die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit het by navraag gesê dat hoewel die verantwoordelikheid vir die herstel van die pad by die provinsiale padowerheid lê, hulle saam met die provinsie werk om die probleem te probeer oplos.
