MunicipalNews

Paul Kruger Saal behoort aan die gemeenskap

Raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus sê die harde werk om dié plakkers te verwyder het uiteindellik vrugte afgewerp.

Die geskiedenisryke Paul Kruger Saal in Krugersdorp-Wes kan dalk weer eersdaags aan die gemeenskap teruggegee word.

Dit volg na meer as vyf jaar se baklei, dreig en mooipraat met Mogale City Munisipaliteit om die plakkers te verwyder wat in dié saal gehuisves is, verduidelik raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus.

“Dit was ‘n opdraande stryd wat uiteindelik ‘n suksesverhaal geword het, net soos wat met die Bob van Reenen-stadion gebeur het. Nie een van hierdie mylpale is egter sonder die broodnodige steun bereik nie.”

De Lange sê al wat nou van die historiese gebou oorgebly het is ‘n ou, vuil en onwelriekende dop met gebreekte vensters.

“Die saal is as ‘n geleentheidsperseel ontwerp en nié om sowat 80 plakkers te huisves nie. Die sanitêre geriewe is baie beperk en daar is ook nie ‘n kombuis nie.”

Sy sê die omliggende gemeenskap het talle kere oor die toestand van die saal gekla.

“Klagtes oor rommel, riool en water wat by die gebou uitstroom sowel as die lawaai van die plakkers wat buite sit en drink is van die klagtes wat ontvang is.”

De Lange sê Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se Burgemeester, Koketso Calvin Seerane, het in 2008 opdrag gegee dat die saal as tydelike huisvesting vir slagoffers van xenofobiese geweld gebruik word, maar dat dié inwoners mettertyd verdwyn het en wettiglik deur ‘n groep plakkers vervang is wat van ‘n stuk grond buite Krugersdorp verwyder is.

“‘n Groot persentasie van die mense wat tot onlangs daar gewoon het, het gewerk en oor naweke het die saal in ‘n gewilde partytjieplek ontaard.”

Die plakkers is op grond van ‘n bevel van die Hoë Hof op 25 Februarie deur die Rooimiere verwyder en na Munsieville vir hervestiging geneem.

“Dit het tyd geword dat die regerende party, die ANC, die land met meer erns en verantwoording teenoor alle burgers regeer,” sê sy.

“Dit is egter ‘n verligting om na soveel jaar weer die Paul Kruger Saal aan die gemeenskap in Krugersdorp-Wes terug te gee.”

‘n Bedrag om die saal weer op te gradeer is in die munisipaliteit se begroting genoem.

“Dit kan honderde duisende rande kos aangesien heelwat herstelwerk deur kundiges aan die historiese houtvloere en balke gedoen moet word,” verduidelik De Lange.

De Lange sê dat die Vryheidsfront Plus ‘n wakende oog gaan hou oor die restourasie en herstelwerk van die saal en hoop om teenwoordig te wees wanneer die saal in ‘n ordentlike en bruikbare toestand aan die omliggende gemeenskap oorhandig word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button