Leratong weier hulp aan gewondes
Na 'n lang drama het die DA se Jack Bloom, woordvoerder oor gesondheid, ingegryp en hulp gereël.
Op Dinsdagnag 25 Februarie is Therese en Hendrik Klopper voor hulle drie kinders in hulle huis in Tarlton aangeval en geskiet. Therese is in haar sy getref, waar die koeël vasgesteek het.
“Nadat hulle na die Leratong Hospitaal gejaag het om hulp te kry, is hulle weggewys met die bewerings eerstens dat die staf nie die tyd gehad het om hulle te behandel nie en tweedens dat hulle sélf die wonde moes skoonmaak,” skryf Mogale City se DA Lid van die Parlement, Anchen Dreyer.
“Toe hulle in nood ‘n tweede keer teruggaan, hoor hulle dieselfde storie.”
Na ‘n lang drama het die DA se Jack Bloom, woordvoerder oor gesondheid, ingegryp en hulp gereël.
“In ‘n ledeverklaring in die parlement op 4 Maart het ek hierdie insident direk onder die aandag van die Minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi gebring. Hy het erken dat die hospitaal uiters nalatig was en dat dit nie geduld mag word nie. Hy het my belowe dat hy die saak sal ondersoek en ingelig dat ‘n ombudsman binnekort aangestel word om op sulke gebeure te reageer.
“Gewapende roof in jou eie huis is erg genoeg, maar om dan nog by die hospitaal weggewys te word, is om trauma op trauma te stapel.
“Ek hou die ANC-regering verantwoordelik vir die lakse bestuur van staatshospitale, omdat hulle byna nooit die betrokke amptenare tot verantwoording roep nie en omdat hulle telkens slegs daarin belangstel om lojale maar onopgeleide ANC-kaders in vakante poste aan te stel. Die gevolge is dat wetsgehoorsame belastingbetalers daaronder ly.”
