Editor's choiceLocal newsNews

Kroningspark-inwoners raadop met die nat toestande

Die tydelike strukture waarin die plakkers tuisgaan is koud en nat, en daar is maar min wat hulle daaraan kan doen.

Al hoop die inwoners van Kroningspark dat hulle wasgoed binnekort sal droog word, het moeder natuur egter ander planne.

By dié park is die swaarkry ooglopend.

Die NUUS het gesien hoe ‘n paar kinders in die poele water speel en orals is daar diere, sommige met nat pelse wat met verwarde en honger oë staar.

En dan is daar oral lyne wasgoed wat die reën en wind trotseer met die hoop dat dit op die een of ander manier sal droogword.

Hannie du Toit en Hendrik Maas is nes die ander inwoners al raadop met die weer.

“Die reën kan nou regtig gaan lê, want die wasgoed wil nie droog word nie en ons moet klere hê om aan te trek.”

‘n Paar meter van hulle blyplek sorg Seun Sevenster en Herman Labuschagne dat hulle in die koue, nat weer warm bly.

“Ons sit hier by die vuur wat ons vir die donkie aansteek sodat ons warm water kan hê om mee te bad,” vertel Herman.

‘n Ander inwoner vertel hoe sy en ander inwoners in die reën sukkel.

“Dit reën oral in – ons komberse, klere en besitting word papnat.”

Die paadjies wat die tente, karavane en houthuisies van mekaar skei, lyk soos riviere. Dis moeilik om daar te loop sonder om nat en vuil te word, en die gelukkiges wat ‘n motor besit moet hulle storie ken om nie in die modder vas te sit nie.

Bransby Buno, ‘n weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dat die swaar reën eers teen die naweek sal begin opklaar.

“Daar is ‘n 80 per sent kans vir reën vir die res van die week, met ‘n moontlikheid van donderstorms.”

Vanaf Vrydag word ‘n 60 per sent kans vir reën voorspel, gevolg deur ‘n 30 per sent kans vir die daaropvolgende week.

“Die reën behoort eers volgende week, teen Donderdag, op te klaar.”
Hy sê die reën wat Krugersdorp tans ondervind is nie ongewoon nie, maar dat dit laat is.

“Dit is tropiese reën wat van die sentrale dele van Afrika afkomstig is en moes Suid-Afrika eintlik al in Januarie en Februarie getref het.”

Hy maan motoriste om versigtig op die paaie te wees omdat vloedwaarskuwings steeds van toepassing is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Janine Viljoen

Janine Viljoen is a seasoned journalist with more than 17 years’ experience. She has worked as a newspaper editor, mentored numerous journalism students, and is currently the sub-editor for the award-winning Caxton Joburg West publications. Her passion lies in developing young journalists and telling compelling human-interest stories.
Back to top button