MunicipalNews

Dis jou park, maar munisipaliteit versuim hulle plig

Dit lyk of 'n openbare park in Krugersdorp-Noord se lang gras en bossies as beskermde plante beskou word.

“Dit is jou park, help ons om dit skoon en groen te hou.”

Só lui ‘n bord wat die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit by die Bodensteinstraat Park, op die hoek van Vierde- en Bodensteinstraat in Krugersdorp-Noord opgerig het, maar dié keer is dit duidelik dat hulle dit self nie doen nie.

Rita Herbst (74) wat oorkant dié park woon sê dat dit vir die laaste jaar ‘n vervalle plek geword het.

“Kriminele kan maklik in die hemelhoë gras en bossies wegkruip en ons dophou. Dit hou ‘n gevaar vir ons as inwoners is. Dit trek ook rotte – ek het al self gesien hoe hulle van oorkant die pad na my huis toe hardloop.”

Sy sê die lang gras en bossies versteek ook ‘n sloot wat omtrent dieselfde tyd gegrawe is as wat die gras laas ordentlik gesny is.

“Ek weet nie waarom die sloot van sowat ‘n meter diep gegrawe is nie, maar daar is aan my vertel dat daar nie verder gewerk kan word nie omdat die geld glo opgeraak het.”

Herbst wil egter weet wat sal gebeur indien iemand daarin sou val en hulleself beseer.

“Hierdie park is ‘n skande. Ek bly al sowat 40 jaar hier en dit het nog nooit so erg gelyk nie.”

Sy sê ‘n werker van die munisipaliteit het die gras gewoonlik met ‘n trekker gesny, maar dit word deesdae net halfpad gedoen as gevolg van ‘n hoop grond in die park.

Rita Herbst (74) van Krugersdorp-Noord by die lang gras en bossies by die Bodensteinstraat Park wat glo sowat 'n jaar laas behoorlik in stand gehou is.
Rita Herbst (74) van Krugersdorp-Noord by die lang gras en bossies by die Bodensteinstraat Park wat glo sowat ‘n jaar laas behoorlik in stand gehou is.

Intussen sien die gemeenskap dit as ‘n geleentheid om hulle rommel daar te stort en dit, sê Herbst, dra verder by tot die rotprobleem.

Dit is nie duidelik of die munisipaliteit die lang gras en bossies as plante beskou wat volgens die kennisgewingbord nie verwyder of beskadig mag word nie.

Intussen het die NUUS die munisipaliteit oor die park se toestand ingelig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button