Menseregtedag, kultuur en menseregte
Van ’n eens dominante taal wat afgeforseer is, het Afrikaans gegroei tot ’n taal van mededeelsaamheid en samewerking.
Menseregte word oor die algemeen verstaan as die reg van die individu teenoor die staat. Deesdae is dit veel meer dikwels die regte van groepe, waaraan die staat moet voldoen, skryf ATKV se uitvoerende direkteur vir kultuur, Danny Titus.
Tipiese menseregte is die reg to behuising, gesondheidsdienste en onderwys. Vir baie mense fokus menseregte te veel op die mens, wat sentraal staan, eerder as op geloof, iets wat veel meer deel is van ons menswees en kultuur.
Tog het die kultuur van menseregte deel geword van ons Suid-Afrikaanse samelewing, en mense se menseregte word veel meer gerespekteer as ooit tevore. Ons land is egter baie agter as dit kom by dinge soos menseregteskendings, iets wat steeds toenemend deel word van ons samelewing. Ons Suid-Afrikaners het werklik gehoop dat ons op hierdie stadium veel verder sou wees. Misdaad, moorde, polisie wat hul mag misbruik en protesoptogte wat heeltemal handuit ruk is – om maar ‘n paar voorbeelde te noem – laat mens meer en meer besef dat die pad nog maar ‘n steil een is in ons nuwe Suid-Afrika. Ons Grondwet word wyd aangeprys, en daar is heelwat nuwe wette en beleidstoepassings, en tog, wanneer dit by die uitvoer daarvan kom, dan val jou moed.
Tog, ten spyte van dit alles, is daar steeds mense wat in hul daaglikse bestaan rustig uitvoering gee aan die opdrag om mekaar te respekteer en met waardigheid te behandel; mense wie se kultuur dit is om ruimte vir mekaar te laat. Dit is hier waar kultuur en ook taal ’n bydrae lewer wat nie altyd aan die groot klok gehang word nie. Kom ons neem taal as voorbeeld. Soveel Suid-Afrikaners maak ruimte om mekaar te verstaan, en sommige leer selfs mekaar se tale aan. Baie Suid-Afrikaners praat drie of vier tale, en baie ander wat heelwat meer van ons elf tale kan praat.
Dit bly interessant om te sien hoe die prentjie van taal in ons land voor ons oë verander.
Kyk mens na Afrikaans, sien mens dat daar meer bruinmense as witmense is wat Afrikaans praat. Die sensussyfers praat selfs van 602 000 African mense (dus, swart mense) wat Afrikaans as hul moedertaal aandui. Nagenoeg 14 000 Afrikaans-sprekers (eerste taal) bevind hulle in Soweto, die oorsprong van die opstande teen die ongeregtighede van die verlede.
Anders as die taal van die onderdrukker van destyds, is Afrikaans vandag een van die elf amptelike tale in ons land. Op die vlak van kultuur sien ons veral by die ATKV se projekte hoe menseregte stil-stil beslag kry in die kuns- en kultuurprojekte. Daar word oor kultuurgrense heen gesing, gedebatteer, dramas opgevoer en aan spelkompetisies deelgeneem. En tog bly Afrikaans, die taal van die ATKV, sentraal van dit alles.
Van ’n eens dominante taal wat afgeforseer is, het Afrikaans gegroei tot ’n taal van mededeelsaamheid en samewerking. In die plek van uitbarstings en konflikte is daar samewerking en ontwikkeling na alle kante toe.
Konflikte word nie onder die mat ingevee nie, en verskille word gerespekteer. Uit ’n menseregtehoek gesien, is dit baie duidelik dat die Grondwet en ander wette en beleide moet ontkiem in mense se harte.
In die spesiale ruimtes van taal en kultuur is daar soveel geleenthede vir menseregte om hande en voete te kry. Trouens, dit gebeur reeds lank. Ons moet ons net oopstel om dit te kan sien en te waardeer.
