Vrou huis toe met koeël in sy: hospitaal staaf hul weergawe
Die hospitaal beweer dat hulle in die pasiënt se belang opgetree het al is sy huis toe gestuur met 'n koeël in haar sy.
Nadat die NUUS ‘n artikel oor beweerde swak diens by Leratong Hospitaal gepubliseer het, het die hospitaal se bestuur aan die koerant geskryf en onder andere ontken dat ‘n Tarlton-inwoner se lewe in gevaar gestel is deurdat sy huis toe gestuur is met ‘n koeël in haar sy.

In die artikel Leratong weier hulp aan gewondes (10 Maart) het die NUUS vertel van ‘n aanval op Therese en Hendrik Klopper waartydens hulle voor hulle drie kinders in hulle huis aangeval en geskiet is.
Die Klopper-egpaar het aan ‘n joernalis vertel hoe hulle Leratong toe gejaag het om hulp te kry maar dat hulle reeds met die intrapslag by die hospitaal swak diens ontvang het.
Volgens die egpaar is hulle by hulle aankoms ingelig dat die staf nie tyd gehad het om hulle te behandel nie en dat hulle sélf hul wonde moes skoonmaak.
“Daar is vir my gesê dat ek maar moet wag omdat daar mense is wat sieker as ek is,” het Therese vertel.
Sy het ook genoem dat haar man, wat in sy vinger gewond is, intussen gemaan is om sy wond self te gaan was en dat ‘n salf later vir hom voorgeskryf is.

Na vyf uur se wag is die egpaaar, volgens hul weergawe van die gebeure, huis toe gestuur en aangesê om die volgende dag terug te kom.
Dit was eers ‘n dag na die aanval dat die koeël uit Therese se sy verwyder is nadat die DA se woordvoerder vir gesondheid in Gauteng, Jack Bloom, ingegryp en hulp gereël het.
In hul skrywe aan die NUUS sê die hospitaalbestuur dat Therese die nodige sorg ontvang het.
Die hospitaal ontken ook beweringe dat hulle vir Therese huis toe gestuur het sonder om haar deeglik te ondersoek.
“Me Klopper het self gevra om huis toe te gaan om na haar kinders om te sien – en dit was eers nadat ‘n chirurgiese konsultant haar ondersoek het. Die ondersoek het gewys dat die koeël vlak onder haar vel was en geen daadwerklike of onmiddellike gevaar ingehou het nie. Die koeël was nie parallel met enige belangrike organe nie,” sê dr Wojtowicz van die hospitaal.
Bestuur by die hospitaal sê ook dat daar traumaberading vir die egpaar gereël is.
Krugersdorp DA Raadslid Jakkie Naudé wat die gesin gedurende die voorval bygestaan het sê dat die gehalte van staatsgesondheidsdienste in Krugersdorp veel te wense oorlaat en dat die hospitaal die geval baie beter kon hanteer het.
