Oorgerustheid bring skade
Die sentrumbestuur van die Anthos Sentrum in Voortrekkerweg sê motoriste lok misdadigers uit om hulle voertuie te steel.
Die Anthos Sentrum-bestuur (Monument Checkers) herinner kopers net weer daaraan dat hulle nie ‘n lakse houding moet hê wanneer dit by motorveiligheid kom nie.
Helen Haji-Pavlou, eiendomsbestuurder sê dat sy die afgelope tyd opgemerk het dat klante by die sentrum misdadigers uitlok om hulle voertuie te steel.
Dit kom nadat ‘n voertuig verlede maand gesteel is toe iemand vinnig uit haar motor geklim het om pos uit haar posbus op die perseel te haal.
“Sy het gedink dat sy vinnig sou wees, maar ‘n misdadiger het die geleentheid gesien en toe sy haar oë uitvee was dit reeds te laat. Die misdadiger het haar weggestamp en met haar motor weggery.”
Haji-Pavlou sê na hierdie voorval het sy eendag langs ‘n vrou stilgehou wat ook nie haar voertuig afgeskakel het voordat sy gou rommel in ‘n asblik op die perseel gegooi het nie.
“Ek het haar gevra of sy weet dat iemand se motor op hierdie manier gesteel is en sy het gesê dat sy daarvan weet.”
Haji-Pavlou sê die vrou het vir haar gesê dat sy net vinnig haar rommel wou weggooi.
Sy sê ‘n ander kopseer is mense wat nie seker maak dat hulle voertuie gesluit is nie.
“Daar is ‘n tegniek wat misdadigers gebruik, veral vir motors wat deur afstandbeheer gesluit word.”
Sy sê die eienaar van die motors dink baie keer hulle motors is gesluit wanneer hulle die knoppie druk, maar dan gebruik ‘n misdadiger ‘n toestel wat verhoed dat die voertuig gesluit word.
Daarom het die sentrum kennisgewings aangebring met die woorde “Is your vehicle locked?” (is jou voertuig gesluit) om klante te herinner om seker te maak voordat hulle wegstap.
Haji-Pavlou bedank ook vir Lisa Bornman, ‘n lid van die publiek wat inisiatief geneem het om die omgewing om die sentrum veiliger te maak deur Mogale City Plaaslike Munisipaliteit sover te kry om eenrigtingpadtekens op te rig.
“Dit gaan veral baie help wanneer ‘n nuwe restaurant in die plek van Ambrozio’s binnekort oopmaak.”
Sy sê mense wat voorstelle het oor hoe die sentrum sy dienste kan verbeter kan dit per epos na hajibiz.sa@gmail.com aanstuur.
