Kinders uit brandende woonstel gered
Drie kinders is beseer toe 'n woonstel in die Krugersdorp-middedorp aan die brand geraak het.
Brandbestryders het drie kinders vanuit die boonste verdieping van ‘n woonstelblok in die middedorp gered terwyl die gebou in vlamme gehul was.
Volgens ander inwoners van die woonstelblok het ‘n gesin van vyf – drie kinders en hulle twee ouers – in die woonstel gebly voor die gebou in die brand verwoes is.
Die brand wat op 2 Mei net voor middagete op die hoek van Pretoria- en Van Bredastraat uitgebreek het, het die dorp aan die gons gehad en talle inwoners het gestaan en toekyk hoe die kinders een vir een uit die woonstel gered word.
Daar word beweer dat die kinders se ouers nie ten tye van die brand by die huis was nie.
Volgens winkeleienaar en ooggetuie Anwar Mosein het oranje vlamme by die woonstelvenster uitgelek en was die gebou toe onder ‘n rookwolk voor die brandweerdiens opgedaag het.
Volgens Chris Botha van Netcare 911 wat ook op die toneel was, is die drie kinders ernstig in die brand beseer.
“Die kinders het meer as 60 persent brandwonde opgedoen,” sê hy.
Volgens Botha is die kinders op die toneel behandel en per staatsambulans na ‘n hospitaal daar naby geneem.
Waarnemende Uitvoerende Bestuurder van Openbare Veiligheid by die Wes-Randse Distriksmunisipaliteit, Wikus Myburgh sê die brand het weens ‘n elektriese fout ontstaan.
Myburgh sê dat sy personeel vinnig opgetree het en dat hy trots is op hul flink diens.
“Dis lekker om lewens te kan red, dis hoekom ons daar is, ” sê hy.
