Slaggate nie meer ‘n teer saak
AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid het gesê die munisipaliteit het onderneem om aandag aan die betrokke strate te gee.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het verlede maand verskeie klagtes van inwoners van Krugersdorp ontvang oor gevaarlike slaggate in die Mogale City munisipale gebied.
AfriForum het met eienaars van ondernemings wat bande herstel of vervang gesels, wat bevestig het dat die vraag na hul dienste weens dié probleem drasties gestyg het.
Foto’s van die slaggate is geneem en die plaaslike AfriForum-tak het ’n brief aan Dan Mashitisho, munisipale bestuurder, en die Departement van Infrastruktuur in die munisipaliteit gestuur. Die brief lui dat die publiek en die munisipaliteit onnodige onkostes moet aangaan omdat die slaggate skade aan voertuie en bande veroorsaak.
Marcus Pawson, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid, het gesê die munisipaliteit het onderneem om aandag aan die betrokke strate te gee. Hy het intussen self ondersoek ingestel en vasgestel dat al die slaggate waaroor gekla is, herstel is.
’n Waterlekkasie wat die bron van die slaggate was, is ook herstel.
AfriForum is tans ook met Mogale City in gesprek oor die openbaredeelname-prosesse oor die begroting wat net in Setswana plaasgevind het en wat ander minderhede se taalregte geskend het.
Infrastruktuurprobleme en rioolstorting in die Magaliesburg-omgewing is ook kwessies wat tans bespreek word.
