MunicipalNews

Kruising is verwarrend

Kwekery eienaars op die hoek van dié kruising probeer al meer as twee jaar die stadsraad so ver te kry om strepe in die pad te laat verf.

Die eienaars van ‘n kwekery op die hoek van Rustenburg- en Industrialweg in Krugersdorp-Wes is raadop met hierdie kruising.

Madelein en Robert Botha sê hulle sukkel meer as twee jaar om die stadsraad sover te kry om strepe in die pad te laat verf omdat die gebrek aan strepe daar tot verwarring lei.

“Dit is ‘n baie besige pad en ons het al talle ongelukke hier sien gebeur, maar om by die munisipaliteit te kla is net so goed soos om ‘n speld in ‘n hooimied te gaan soek.”

Madelein sê sy het al verskeie kere die munisipaliteit asook vir Mathys van Tonder, DA Raadslid vir dié area gekontak, maar dit het niks opgelewer nie.

“Dit lyk vir my of die stadsraad nie omgee oor die veiligheid van hulle mense nie, maar worry meer oor geld.”

Sy sê padgebruikers weet nie waar om te stop nie en ry dan oor. Veral dié wat uit Rustenburgweg in Industrialweg wil indraai raak verward omdat daar nie ‘n verkeerslig of stopteken is nie.

“Daar was jare gelede ‘n verkeerslig, maar dié het verdwyn en is met ‘n stopteken vervang wat ook nou nie meer daar is nie.”

Madelein sê die merk waar ‘n mens moet stop is reeds onsigbaar.

Met die news se besoek was die enigste bewyse dat daar ‘n stopteken was net in die geverfde letter ‘P’ op die padoppervlak – die res van die woorde het verdwyn.

Sy sê sy het al gedreig dat sy self strepe met pienk verf sal aanbring.

“Maar dit het ook nie gehelp nie.”

Sy sê daar is ook nie behoorlike straatligte nie.

“Hierdie draai is snags pikdonker en mense wat nie die draai ken nie, misgis hulle gereeld daarmee.”

Van Tonder sê hy het die talle klagtes wat hy oor die kruising ontvang het aan die stadsraad deurgegee, maar selfs hy sukkel om ‘n antwoord uit hulle te kry.

Die news sal binnekort saam met hom na die kruising toe gaan om te hoor watter oplossings hy het vir die beveiliging daarvan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button