
Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n brief aan die LUR vir Behuising en Plaaslike Regering in Gauteng gerig oor die gewelddadige protesoptogte in Magaliesburg.
Die organisasie versoek onmiddellike optrede deur die LUR, Jacob Mamabolo, én ’n plan van aksie voor Vrydag 13 Junie.
Dit kom na amper drie weke se protesoptogte in dié gemeenskap wat onlangs meer gewelddadig geraak het.
Die gemeenskap eis dat die plaaslike wyksraadslid, Dipuo Mosese, afgedank word vanweë haar onvermoë om die wykskomitee behoorlik te bestuur en algemene vergaderings met die gemeenskap te hou. Mosese word ook daarvan beskuldig dat sy haar familie voortrek vir regeringsposte wat aan die gemeenskap beloof is.
“Die plaaslike ANC-tak se uitvoerende bestuur laat egter ook hulle vriende en familie voordeel trek uit regeringsposte wat beskikbaar geword het na die oprigting van ’n nuwe skool met koshuisgeriewe,” sê AfriForum provinsiale koördineerder Marcus Pawson.
“Die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit reageer traag op die protesoptrede wat nou besighede begin bedreig,” sê hy.
Mogale City burgemeester Koketso Calvin Seerane was meer as ‘n week gelede in die gebied om die gemeenskap se klagtes en eise aan te hoor en sou verlede Vrydag terugkeer met oplossings.
“Hy het self ‘n vergadering met die gemeenskap belê, maar het nie opgedaag nie,” vertel Pawson.
Volgens Pawson is die wyksraadslid nog nie met ‘n oog gesien nie, wat glo ongelukkigheid onder die oproeriges aanvuur.
“Waar is die politieke leiding, of is hulle stil omdat die korrupsie-aantygings teen die wyksraadslid en die munisipaliteit dalk waar is?” vra Pawson.
Volgens Pawson leef die gemeenskap van Magaliesburg in vrees, en toegangsroetes kan enige oomblik deur betogers versper word.
