Gevaarlike kruising behou sy naam
Dit blyk dat pogings om die pad te beveilig nie vrugte afwerp nie.
Verkeersowerhede in Mogale City het onlangs ‘n poging aangewend om die hoek van Albertina Sisuluweg en John Hoatsonstraat te beveilig na ‘n groep kinders die soveelste slagoffers van ‘n ongeluk by dié kruising was.
In Mei vanjaar het ‘n ongeluk waarin 38 kinders beseer is nadat ‘n skoolbus by die kruising omgeslaan het, die voorblad van die news gehaal. Alhoewel die gebeure wat tot die voorval gelei het nie bevestig kon word nie, is bestuurders se waaghalsige optrede by die kruising onder die vergrootglas geplaas.
Die news het gaan ondersoek instel en talle gevalle gesien waar bestuurders van ‘n glipweg gebruik maak om die wagtyd by ‘n verkeerslig uit te skakel.
Die waaghalsige poging het byna elke keer op dieselfde uitgeloop – óf die verkeerslig verander intussen na groen en die bestuurders het ‘n noue ontkoming met aankomende verkeer, óf bestuurders misgis hulle met die skerp helling van die draai en is net-net gelukkig dat hul motors nie omslaan nie.
In ‘n poging om te verhoed dat bestuurders so van die glipweg gebruik maak, het verkeersowerhede onlangs ‘n padteken opgerig wat dit verbied.
Naat die teken opgerig is, het die news weer gaan ondersoek instel net om te bevind dat bestuurders die teken ignoreer en steeds van die glipweg gebruik maak.
Die news verwelkom graag lesers se terugvoer oor wie nou verantwoordelikheid vir die onveilige kruising moet neem en wat gedoen kan word om die kruising te beveilig.
Laat gerus u kommentaar in die spasie onder of stuur ‘n epos aan krugersdorpnews@caxton.co.za.
