Editor's choiceLocal newsNews

Platinumwerkerstaking bring ellende maar Tarlton-boere help

Inwoners ly honger weens die platinumwerkerstaking in Rustenburg. Jy kan help.

‘n Groep groenteboere in Tarlton het besluit om inwoners van Mooinooi naby Rustenburg met kosskenkings by te staan. Die dorp beleef ‘n ekonomiese laagtepunt weens die platinumwerkerstaking in die area.

Die boere het op ‘n beroep van Krugersdorp VF Plus raadslid Amanda de Lange gereageer wat onlangs saam met vrywilligers kospakkies daar gaan uitdeel het.

De Lange, mederaadslid Elsa Lourens van Madibeng en lede van die Warlocks-motorfietsklub wat op verskillende maniere van die nood in die area gehoor het, sê hulle was geskok oor hoe swaar inwoners werklik kry.

Dié dorp in die vakansiemekka van Noordwes is ’n klipgooi van die gewilde vakansieoorde ATKV Buffelspoort en Umaramba wat nog altyd bygedra het tot Mooinooi se ekonomiese vooruitgang.

“Die Mooinooiers was tot vyf maande gelede ‘n gelukkige klomp mense wat genoeg geld by die omliggende myne verdien het om selfversorgend te wees – tot die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) besluit het hulle hou die Suid-Afrikaanse platinumbedryf gyselaar,” sê De Lange.

Amcu eis dat hul laagsbesoldigde werkers ‘n salaris van R12 500 betaal word.

“Nou staan die mense van Mooinooi saam in een lang ry en wag op die gunste en gawes van wat aan die einde van die ry wag.

“‘n Rol toiletpapier, ’n pakkie suiker en ‘n blikkie ertjies sal jou ‘n hele oggend laat wag. Al waaroor die gesprekke in die rye gaan, is die staking, die regering se afwesigheid om ‘n oplossing te probeer soek, en ‘n derde mag wat dalk agter die stakings sit,” voeg sy by.

Andy Meintjies, nasionale president van die Warlocks-motorfietsklub, wat saam met lede van die VF Plus gehelp het dat inwoners ‘n kospakkie met ‘n verskeidenheid ontvang, sê dat hy nie sy gesig kon wegdraai vir die mense van Mooinooi nie.

“Ek het op facebook ‘n inskrywing gelees oor die ellende in Mooinooi en besluit ons moet help. Ek het van die omliggende motorfietsklub-voorsitters gebel en saam het ons gou R35 000 ingesamel en deur kontakte kos teen kosprys aangekoop,” sê hy.

“Ons het dr Pieter Groenewald, VF Plus parlementslid en nasionale voorsitter van die party geskakel om sy mense te stuur om te help met die koördinering van die projek. Alles het gou bymekaar gekom en VF Plus-lede uit ander provinsies het kom help,” voeg hy by.

De Lange, wat ook die nasionale voorsitter van die VF Plus se vrouekomitee is, is vasbeslote om ander organisasies en besighede aan te moedig om ook aan die hulpverlening deel te neen.

Daar woon sowat 4 000 mense in Mooinooi en almal is direk of indirek van die myne afhanklik. In Rustenburg en omgewing, wat hoofsaaklik van mynaktiwiteite afhanklik is, het sowat 300 besighede reeds hul deure gesluit.

“Mynwerkers sukkel na vyf maande se staking om hul motor- en huispaaiemente by te bring. Hulle het reeds alles verkoop wat hul kon. Daar is nie geld vir skoolfonds of busse om hul kinders skool toe te neem nie.

Geld vir petrol is daar nie. Hulle loop maar waar hulle wil wees,” sê De Lange.

Mense wat wil aansluit by die hulplenigingsprojek kan De Lange skakel by 071 604 9498.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button