BlogsLocal newsNewsOpinion

Christo antwoord: Ek kom nie uit nie …

Ouers het, aldus die Kinderwet, regte en verpligtinge jeens hulle kinders wat hulle moet nakom

Die news se plaaslike regsgeleerde, Christo Swart beantwoord die volgende navraag in sy maandelikse regsadviesrubriek; Ek kom nie uit met my maandelikse onderhoud nie.

“My pa het altyd gespot dat kinders duur kos. Hoe reg was hy nie. Dis nie net die vaste uitgawes wat maandeliks betaal moet word nie. Dit is veral die klein jakkalsies van onvoorsiene uitgawes wat mens se begroting baie gou in ‘n knyptang kan laat beland.

“Baie geskeide ma’s het daagliks kommer in hulle harte oor die feit dat die maandelikse onderhoud nie voldoende is nie. Hierdie kommer word vererger wanneer jou gewese man dan volstrek weier om na jou te luister met ‘n houding van ‘jy kry juis meer onderhoud as baie ander vrouens want die manne by die werk vertel my hulle betaal baie minder onderhoud as ek’. Wanneer jou vorige man boonop weer in ‘n verhouding staan of trou, word sake beslis ook nie makliker nie.

“Wat staan ‘n mens te doen? Uiteraard kan ‘n sinvolle gesprek die gewenste uitwerking hê. Probeer dus allereers om met jou gewese man te praat oor die uitgawes van die kinders – via jou prokureur. Dit kan die vinnigste oplossing bied en jou finansieel baat aangesien jou regskostes beperk word.

“Sou gesprek nie die gewenste uitwerking hê nie, kan jy jou wend tot die Onderhoudshof met ‘n aansoek dat die onderhoud verhoog word. Die klerk van die betrokke hof sal jou die nodige dokumentasie gee om in te vul alvorens hulle met jou gewese man in verbinding tree vir ‘n eerste poging tot gesprek om ‘n skikking te bereik. Vul jou vorms baie noukeurig in en onthou altyd die regsreël dat hy/ sy wat beweer moet bewys. Sou jy ‘n bedrag vir uitgawes beweer – byvoorbeeld naskoolgelde – heg ‘n staat van die naskoolsentrum aan wat die betrokke uitgawe bewys.

“Sou julle na die eerste gesprek nie ‘n sinvolle skikking bereik nie, sal die landdros ‘n ondersoek gelas. Op daardie dag sal ‘n ordentlike ondersoek geloods word na die stand van die finansies van jou gewese man om te bepaal in watter mate die onderhoud verhoog kan word. Soms beweer die gewese man dat sy salaris nie meer dieselfde as vroeër is nie. Jou prokureur sal dan die rekenmeester van die maatskappy waar jou man werk, kan dagvaar (subpoena) om oor die ware toedrag van sake voor die hof te gaan getuig.

“Tydens die ondersoek sal die voorsittende beampte die beginsel van billikheid toepas. Die kinders se belange sal voorop gestel word. Onderhoud kan nie ‘n stok word waarmee partye mekaar wil slaan nie. Die ma mag nie onbillike eise stel nie en eweneens moet die pa ‘n billike onderhoud betaal.

“Pa’s kan ook by die Onderhoudshof aansoek doen dat onderhoud verminder word indien hulle finansiële posisie verswak het as gevolg van herstrukturering by die werk of wat ook al. Dieselfde proses sal gevolg word om ‘n uitslag te bepaal.

“Ouers het, aldus die Kinderwet, regte en verpligtinge jeens hulle kinders wat hulle moet nakom. Ek pleit daarom dat ouers die belange van hulle kinders altyd voorop stel en mekaar nie oneties probeer knyp met onderhoud nie.”

Die SBS Regskliniek bied gedurende Augustus ‘n werkswinkel vir belangstellendes aan om hulle te help met die voorbereiding van hofdokumentasie wat hulle tydens hulle eerste konsultasie na hulle prokureurs saamneem. Belangstellendes kan gerus die Regskliniek skakel by 011 662-1444 om ‘n plek te bespreek. Nominale gelde word gevra.

Lees gerus Christo se vorige artikel, deur hier te kliek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button