Hoewel daar ‘n gerug is dat daar net drie munisipale werkers is wat die strepe op Krugersdorp se paaie moet verf, is daar reeds plek-plek in die dorp tekens dat verfwerk wel gedoen word.
Uitvoerende Burgermeester Koketso Calvin Seerane het in die onlangse begrotingsrede aangekondig dat R914 787 miljoen aan infrastruktuurdienste toegewys is en daar kan net gehoop word dat hierdie geld vanjaar gebruik sal word vir dié noodsaaklike werk.
Die news is onlangs deur Madelein en Robert Botha, eienaars van ‘n kwekery op die hoek van Rustenburg- en Industrialweg in Krugersdorp-Wes gekontak omdat die gebrek aan strepe sowel as ‘n vermiste stopteken daar tot verwarring lei.

“Ons sukkel reeds meer as twee jaar om die stadsraad sover te kry om strepe in die pad te laat verf. Dit is ‘n baie besige pad en ons het al talle ongelukke hier sien gebeur.”
Nadat Mathys van Tonder, DA raadslid vir dié area oor die jongste probleme ingelig is, is ‘n stopteken weer opgerig.
Hy verduidelik dat die stopteken vinnig aangebring is nadat hy die stadsraad daaroor ingelig het, maar sê dat hy hulle sedert Desember soebat om die strepe op die paaie in hierdie gebied te verf.
“Ek het die stadsraad intussen weer verskeie kere gekontak en die erns van die probleme met die ongeverfde pad verduidelik, maar na ses maande is daar nog nie op die klagtes aggeslaan nie.”
Van Tonder sê hy verstaan daar is ‘n tekort aan mannekrag om die werk te doen, maar dat dit nie meer as ‘n verskoning gebruik kan word nie.
“Die pad is ‘n hoofroete na dorpe soos Rustenburg, Magaliesburg en Botswana. Daarom is hierdie ‘n besige roete en as die son laag lê is dit nog moeiliker om die strepe wat nog bestaan, raak te sien.”
Hy sê hy sal die stadsraad weer kontak om uit te vind of die pad binnekort geverf kan word.
“Om hierdie deel van die pad te verf behoort hulle nie baie lank te neem nie.”
Van Tonder sê indien mense in sy wyk agterkom dat daar munisipale eiendom soos stoptekens weg is, kan hulle hom by 076 294 2998 kontak.
