Verskeie werknemers van Strapping & Profile Manufacturers, wat plastiekprodukte vir onder meer die landbousektor vervaardig, is vroeg vanoggend geviktimiseer.
Antoinette Horak sê toe sy by die werk kom was daar sowat 12 betogers voor die hek.
“Net een persoon het met my gepraat en vir my gesê ek moet huis toe gaan, want hulle is besig om te staak. Die sekuriteitswag binne die perseel het my aangeraai om eerder te doen wat hulle vra.”
Sy sê sy het in Barratstraat in die rigting van Albertina Sisuluweg gery toe sy sien hoe die betogers van die hek wegbeweeg.
“Dit is toe dat ek die kans waag en terug werk toe ry.”
Idah Tshabalala wat per trein pendel sê sy is gister (3 Julie) deur Numsa-lede voorgekeer toe sy by Luipaardsvlei-treinstasie afgeklim het.
“Hulle wou by my weet waarheen ek gaan en ek sê toe werk toe. Hulle wou nie hê ek moes gaan werk nie.”
Vandag (4 Julie) het sy na bewering gesien hoe stakers mense wat uit die stasie kom met sambokke en stokke slaan.
By hulle werksplek het sowat 300 betogers voor die hek betoog en selfs die hek geruk en pluk voordat hulle met die water uit ‘n brandslang verdryf is.
Hennie Meyer, die eienaar sê twee ander werknemers was so geskok oor die gebeure dat hulle ‘n kalmeermiddel moes neem.
Kliek hier vir meer foto’s.
