Oud-Norie en TV-aktrise stel debuutroman bekend
Oud-Norie maak haar debuut as skrywer.
Oud-Norie Adriana Faling, ook bekend as die aktrise wat tans die rol van Irma Theunissen in 7de Laan vertolk, het onlangs haar debuut as skrywer gemaak met die bekendstelling van haar boek Rewolusie van die Hart in Pretoria.
Die uitgewers, Lux Verbi, beskryf Adriana as ‘n “briljante nuwe skrywer” en haar roman as “hierdie winter se mees inspirerende, genotvolle en boeiende boek”.
Rewolusie van die Hart is ‘n aangrypende en aktuele roman oor die vervolging van Christen-bekeerlinge in Egipte tydens die Arabiese Lente.
Die verhaal oor twee vroue speel deels in Egipte en deels in Suid-Afrika af en beskryf die uitdagings waarvoor die bekeerling en die eggenote van ‘n sendeling te staan kom.
Adriana het in 1994 aan Hoërskool Noordheuwel gematrikuleer waar sy hoofmeisie was. Daarna studeer sy drama aan die Universiteit van Pretoria en ontvang ‘n reeks toekennings vir vertolkings in verskeie studente-produksies.
Sy het tydens haar derde studiejaar haar beroep as aktrise begin as Tessa in Egoli. Sy is ook bekroon met toekennings vir ‘n aantal kortverhale.
Adriana en haar man is betrokke by die ondersteuning van sendelinge in verskeie lande. ‘n Groot deel van die navorsing vir die boek het sy tydens hulle besoek aan Egipte gedoen.
Verdere inligting oor die boek kan verkry word by Susan Jordaan van NB Uitgewers by susan.jordaan@nb.co.za.
