
Voortslepende, gewelddadige protesoptogte in Magaliesburg word ‘n groot bron van kommer en die burgerregte-organisasie AfriForum het onlangs ingespring om inwoners te beskerm.
AfriForum het ‘n versoek vir onmiddellike optrede aan die lid van die uitvoerende raad (LUR) vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, Sizakele Emelda Nkosi-Malobane gerig om ‘n einde te bring aan dié protesoptogte.
Die burgerregte-organisasie het ‘n brief aan die LUR asook die premier van Gauteng, David Makhura oor die aangeleentheid gerig.
“Indien die LUR nie aan die versoek voldoen nie, sal die plaaslike AfriForum-tak self veiligheidsnetwerke in die omgewing stig om mense en eiendom te beskerm,” sê AfriForum Provinsiale koördineerder Marcus Pawson.
Dít kom nadat die gemeenskap in Magaliesburg en omgewing die afgelope twee maande gedurig onder gewelddadige betogers deurgeloop het.
AfriForum het ‘n maand gelede ‘n versoek gerig vir onmiddellike optrede deur die LUR vir behuising en plaaslike regering in Gauteng, Jacob Mamabolo, sowel as ’n aksieplan om die geweld te beëindig.
“Na twee maande van geweld en intimidasie in Magaliesburg is die gemeenskap se geduld op met die polisie, en hul onvermoë om die situasie op te los. Die rede is doodeenvoudig: daar word geen politieke leiding gegee nie. Die gemeenskap is kwaad en nou ly die dorp daaronder. Dit is onbillik,” sê Pawson.
“AfriForum beskik oor goed gestruktureerde veiligheidsnetwerke waar gratis opleiding aan lede verskaf word sodat gemeenskappe self na hulle veiligheid kan omsien,” sê hy.
“Die gemeenskap sal onafhanklik funksioneer deur self na hul eiendom en die gemeenskap om te sien om veiligheid te bevorder en sal die oë en ore van die gemeenskap wees,” verduidelik hy verder.
Volgens Pawson leef die gemeenskap van Magaliesburg in vrees en kan toegangsroetes enige oomblik deur betogers versper word.
