BlogsLocal newsNewsOpinion

Iemand skuld my geld, help!

Soms beleef ‘n mens frustrasie omdat ‘n skuldenaar jou ‘n klein bedrag geld skuld, maar net nie tot betaling kom nie.

Die news se plaaslike regsgeleerde, Christo Swart beantwoord die volgende navraag in sy maandelikse regsadviesrubriek; die Hof vir Klein Eise hanteer kleine frustrasies.

Daar is ‘n spreekwoord wat nogal veelseggend is naamlik, “Dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel”.

Soms beleef ‘n mens frustrasie omdat ‘n skuldenaar jou ‘n klein bedrag geld skuld, maar net nie tot betaling kom nie. Jy benodig die geld, maar is nie lus om jou energie, asook geld te spandeer aan ‘n lang en uitgerekte hofsaak, om die betrokke gelde in te vorder nie.

Die antwoord op dié probleem is om die Hof vir Klein Eise te nader om jou te help om jou skuld te vorder. Hierdie hof is daargestel om die klein jakkalsies van frustrasies op te los. Jy kan deesdae tot die bedrag van R15 000 deur hierdie hof verhaal. Die hof neem gewoonlik sitting om 5nm. Gesoute prokureurs is aangestel as kommissarisse om die verrigtinge voor te gaan en uitspraak te lewer.

Die proses behels dat jy eerstens die klerk van die hof vir klein eise gedurende kantoorure nader wat jou sal help om jou eis te formuleer. Die klerk sal dan ‘n aanmaning rig aan die skuldenaar. Die aanmaning sal ‘n datum en tyd aandui wanneer julle voor die hof verskyn en julle saak aan die kommissaris stel. Regsverteenwoordiging word nie toegelaat nie, maar niks verhinder jou om vooraf met jou prokureur te konsulteer om ‘n bietjie raad in te win nie.

Die uitspraak van die kommissaris is bindend en finaal.

Ek deel ook graag ‘n paar ander interessanthede rondom hierdie hof se werking. Enige persoon wat agtien jaar oud is kan ‘n eis in hierdie hof instel. Maatskappye, beslote korporasies en assosiasies mag egter nie van hierdie roete gebruik maak om gelde te vorder nie. Sodanige instansies mag wel as skuldenaars voor die einste hof gedaag word. Indien jy nog nie agtien jaar oud is nie kan jy wel ‘n eis instel, maar moet dan bygestaan word deur jou ouer of jou voog.

Jy kan nie in die Hof vir Klein Eise ‘n eis instel teen die staat nie. Eweneens kan jy nie jou visier instel op munisipaliteite en plaaslike regerings in hierdie hof nie.

Egskeidings, vrae rondom die geldigheid van testamente en die vasstel van toerekeningsvatbaarheid kan ook nie by hierdie forum aangehoor word nie.

Die Hof vir Klein Eise is daargestel met die oog daarop om eise vinnig en vaartbelyn op te los en kan aanbeveel word sodat die klein jakkalsies van frustrasie jou nie moedeloos maak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button