Pensioenarisse wen eerste rondte teen Transnet
Die effek van die hofsaak is dat Transnet en die regering nou waarskynlik 'n krediet-degradering in die gesig staar.
Die VF Plus wens Transnet se pensioenarisse geluk dat die Noord-Gautengse Hooggeregshof in hul guns beslis het dat hulle wel as ‘n groep teen Transnet en die regering kan eis.
Advokaat Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer het op Donderdag (31 Julie) gesê die VF Plus het ‘n lang pad saam met die pensioenarisse gestap om tot daar te kom en was sedert 2006 by die aangeleentheid betrokke.
Hy sê die VF Plus het eers probeer om dit in die parlement te laat bereg, maar daar is ongelukkig niks bereik nie en daarom is die hofproses uiteindelik gevolg.
“Die VF Plus wens ook die onafhanklike regspan bestaande uit prokureur Wynanda Coetzee en senior advokate Jaap Cilliers en Leon Kellerman geluk met die beloning vir hul harde werk. Hulle was bereid om op ‘n gebeurlikheidsbasis hierdie saak aan te neem omdat daar soveel menseregteskendings teen die pensioenarisse plaasgevind het.
“Die VF Plus wens ook al die pensioenarisse wat as leiers en koördineerders opgetree het, baie geluk met hul onvermoeide ywer en arbeid. Hier word spesifiek verwys na Bettie van der Merwe, Theuns Berry, Ronald Mitchell, die afgestorwe Piet van Rensburg en talle ander streeksorganiseerders wat te veel is om te noem,” sê Alberts.
Hy sê die bevel is met koste teen die respondente toegestaan wat beteken dat die regter glad nie gelukkig was met die feit dat die saak geopponeer is deur Transnet en die regering nie.
“Die effek van die hofsaak is dat Transnet en die regering nou waarskynlik ‘n kredietdegradering in die gesig staar wat effektief Transnet se uitbreidingsplanne in die wiele kan ry omdat hy baie moeilik enige lening sal kan aangaan. Die enigste manier hoe Transnet van hierdie swaard oor sy kop ontslae kan raak, is om so gou moontlik die saak met die pensioenarisse te skik.
“Die proses vorentoe is nou dat daar in talle hoofstroom-koerante advertensies geplaas gaan word om die publiek bewus te maak van die klasaksie en om dié wat nie deel daarvan wil wees nie, die geleentheid te bied om uit te teken. Daarna word die volgende hofdatum vasgestel. Ons is hoopvol dat die volgende saak nog hierdie jaar kan plaasvind,” sê Alberts.
Verwante artikels:
• Transnet baas by Menseregtrekomissie na uitlating teenoor oues
• Transnet-pensioenarisse klou aan laaste hoop
