MunicipalNews

Klag teen Mogale by OB ingedien

Die plaas is eers aan mnr Tsangari vir 'n bedrag van R6,669 miljoen verkoop en drie dae later aan Mogale City-munisipaliteit vir R18,5 miljoen.

Terwyl die Ouditeur-Generaal weereens ‘n ‘skoon’ oudit aan Mogale City toegeken het, het die VF Plus ‘n klag teen die stadsraad by die Openbare Beskermer (OB) ingedien oor beweerde ongerymdhede rondom die aankoop van ‘n plaas in Hekpoort.

Amanda de Lange, raadslid van die Vryheidsfront Plus in Mogale City sê die VF Plus is nie gekant teen die aankoop van die grond nie, maar wel teen die prosedure wat gevolg is en die prys wat uiteindelik vir die plaas betaal is.

Volgens De Lange het ‘n eiendomsagent jare gelede die plaas aan die munisipaliteit uitgewys vir die moontlike ontwikkeling van laekoste-behuising. Mogale City het na die grond gaan kyk maar dit nie gekoop nie.

“Groot was die verbasing toe daar in die 21 Junie 2013 uitgawe van Landbouweekblad ‘n kennisgewing onder die afdeling ‘plaasverkope’ verskyn het waarin die betrokke plaas as verkoop gelys is.

“Die plaas is eers aan mnr Tsangari vir ‘n bedrag van R6,669 miljoen verkoop en drie dae later aan Mogale City-munisipaliteit vir R18,5 miljoen.

“Ek en die voormalige Gautengse provinsiale leier van die VF Plus, Jaco Mulder, is al sedert Julie 2013 in korrespondensie met Mogale City om ‘n verduideliking te eis. Ek het die kwessie op verskeie raadsvergaderings geopper, maar kon geen antwoord of verduideliking kry van Mogale City se munisipale bestuurder, Dan Mashatisho nie,” sê De Lange.

Sy sê transaksies soos hierdie wek agterdog en die feit dat Mogale City se senior bestuur telkens versuim om verantwoording te doen oor die onreëlmatige transaksie terwyl hulle self ‘n opsie gehad het om die eiendom teen sy oorspronklike markwaarde aan te koop, kan nie net daar gelaat word nie.

“Die feit dat Mogale City bykans drie keer meer vir die plaas betaal het as waarvoor hy dit kon kry, laat die wenkbroue lig. ‘n Mens wonder wat die betrokkenheid tussen die twee partye is.

“Dit is in die belang van die belastingbetalers van Mogale City dat ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien is vir ‘n volledige ondersoek na die transaksie. Die VF Plus sal hierdie ondersoek van die OB noukeurig dophou,” sê De Lange.

Verwante artikels:

• Magaliesburgers raadop met polisie en regering

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button