Die oop veld aan die westekant van die Hugenotepark in Mindalore is lank reeds ’n doring in die vlees van Mindalore se inwoners.
Dit is uitgewerkte myngrond en daar is nog oop skagte wat deur onwettige myners gebruik word om nog ’n laaste bietjie goud te ontgin. Verder bied die skagte ook skuiling vir misdadigers wat die inwoners gereeld beroof.
DA raadslid De Waal Venter was in verbinding met die Mintails-maatskappy wat die regte verkry het om groot gebiede uitgewerkte myngrond te herontgin. Hulle het die gevaarlike situasie by Mindalore bespreek en Mintails het op 6 Augustus vir raadslid Venter laat weet dat die myninspekteur aan Mintails opdrag gegee het om die gebied te rehabiliteer nadat mynbedrywighede daar afgehandel is.
Skagte sal omhein word en die openinge sal doeltreffend beveilig word deur ingange te bou wat verseël kan word. Op 5 Augustus het Mintails hiermee begin.
Mintails het die DA verseker dat enige ander bedrywighede in die gebied vroegtydig aangekondig sal word. Hulle stel ook ‘n insident-vorm beskikbaar wat inwoners kan gebruik om probleme soos krake in huismure aan te meld wat moontlik deur Mintails se werksaamhede veroorsaak kon gewees het.
Dié vorms kan by raadslid De Waal Venter verkry word. Skakel hom by 083 382 1632.
