Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

Na jare steeds vrae oor afgebrande huis

Die huis in Appelpark is 'n nes van onwettige bedrywighede.

Dit is al sewe jaar sedert die huis op die hoek van Roode- en Jobstraat afgebrand het en leeg staan.

Die vraag is of Mogale City Plaaslike Munisipaliteit die huis gaan sloop en die grond gaan verkoop. Volgens André Pieterse, stigter van die Municipality Watchdog, is die munisipaliteit die eienaar.

Intussen, vertel hy, is die perseel ‘n miernes van bedrywighede soos mense van die gemeenskap hulle rommel daar weggooi. Daar is selfs sprake dat dwelms in dié rommel weggesteek word.

Pieterse sê die munisipaliteit moet begin pa staan vir dié seer oog in die gemeenskap.

'n Kersboom en kitskosverpakking op die rommelhoopi.
‘n Kersboom en kitskosverpakking op die rommelhoopi.

“Dit is besig om ‘n gesondheidsrisiko te word met al die gemors wat hier gelos word. Hoekom pas die munisipaliteit nie die ordonnansies toe en vat die oortreders vas nie?”

Met die news se besoek was daar meestal huishoudelike en bourommel op die verlate erf by Jobstraat 46. ‘n Ratse rot is ook gesien waar dit tussen gebruikte doeke, melkhouers, kitskosverpakkings en ‘n ou matras verdwyn het.

Mike Lee en sy vrou Ria wie se skakelhuis aan dié huis vas is, sê dat hulle die afgelope tyd dikwels siek is.

“Ons weet nie of die rede daarvoor die rommel op die erf langsaan is nie, maar wanneer die rommel aan die brand gesteek word, hang daar ‘n onsmaaklike reuk is in die lug – daar is regtig baie peste in daardie rommel,” sê Mike.

Hy sê die polisie soek gereeld dwelms in die vervalle huis, “… en dan krap hulle alles deurmekaar en los dit net so op die sypaadjie”.

Mike sê benewens sy kommer oor hulle gesondheid, vrees hy vir sy gesin se veiligheid. “Ek het twee dogters wat nog in die huis bly en ek is onrustig as hulle wil uitgaan.”

Huishoudelike en bourommel word op die erf gestort.
Huishoudelike en bourommel word op die erf gestort.

Hy sê dat hy baie dankbaar sal wees as die munisipaliteit iets omtrent die verlate huis doen.

“Ons het hulle al verskeie kere gekontak, maar word van die een persoon na die ander rondgestuur.”

Pieterse sê hy wil graag ‘n skoonmaakprojek van stapel stuur om die rommel te verwyder.

Jakkie Naudé, DA-raadslid sê hy het onlangs weer ‘n epos oor die aangeleentheid aan die munisipaliteit gestuur.

“Hulle het wel so ‘n bietjie van die rommel verwyder.”

Verwante artikel:

• Municipal house now a dumping site

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button