Kerk distansieër hulle van nuwe Sassa slenter
Die Ruimsig- en Nuwe Lewe Gemeente is bewus van die Sassa slenter wat die rondte doen, maar sê hulle sal nooit inligting in ruil vir kospakkies vra nie.
Pastoor Callie Venter van die Nuwe Lewe Gemeente in Krugersdorp-Noord sê dit is ‘n skande dat weerlose bejaardes met ‘n skelmstreek uitgebuit word.
Sy kerk en dié van die Ruimsig Gemeente is valslik gebruik om inligting van bejaarde inwoners te kry in ruil vir kospakkies wat nie bestaan nie.
“Ek was in Limpopo met kerksake toe ek die nuus ontvang dat mense, wat hulle kospakkies by Huis Jerusalem wou kom haal, met leë hande huis toe moes gaan.”
Die mense het het vir die bestuurder daar gesê dat hy gesê het hulle kan hul kospakkies kom haal.
“Ek was regtig baie ontsteld met dié nuus.”
Hy sê hy kan nie glo dat mense liefdadigheidsorganisasies en kerke se goeie naam wil sleg maak nie.
“Huis Jerusalem het al vir meer as 20 jaar ‘n goeie rekord. Ons verskaf al jare voedsame kos aan kinders en help die gemeenskap regtig baie. Ons wil graag net ons naam weer skoon kry deur die gemeenskap te laat weet dat ons nooit kospakkies sal verskaf in ruil vir persoonlike inligting nie.”

Verskeie bejaardes wat in die Jack Cotton-, President-, Van Riebeeck- en Pionierwoonstelle woon, is so ingeloop.
‘n Werknemer van die Sassa-kantore in Krugersdorp het die voorval bevestig en gesê meer as 50 mense is ingedoen.
Inwoners soos Joey Breimer, Thys Mostert en sy vrou Annatjie is ontsteld dat hulle vir hierdie slenter geval het. ‘n Man, ook ‘n inwoner, het hulle van die slenter vertel en het hulle Sassa en ID nommers afgevat.
“Natuurlik as iemand vir ons sê ons kan kospakkies kry sal ons geïnteresseerd wees,” sê Breimer. Sy is eers deur ‘n vriendin, Mona Oberholzer ingelig dat dit ‘n skelmstreek is.
“Ek het vir haar gesê hoe kan jy jou besonderhede net so weggee. Sy sal haar kaart onmiddellik moet blokkeer.”
Maar dit was reeds te laat. R150 van haar pensioen van sowat R1350 is deur middel van ‘n debietorder uit haar Sassa rekening getrek.
Ander inwoners het tot R250 elk in hierdie proses verloor. Mostert en sy vrou het saam R500 verloor en sê hulle weet nie hoe hulle hierdie maand gaan oorleef nie.

Mostert, wat van ‘n suurstofmasjien afhanklik is, sê alhoewel dit ‘n baie tydsame proses was om hulle kaarte geblokkeer en met nuwes vervang te kry omdat beide hy en sy vrou siek is het hulle ook mediese rekeninge wat betaal moet word.
Die inwoner wat glo die besonderhede van sy ander inwoners geneem het, het aan die news gesê hy het dit met ‘n goeie hart gedoen.
“Ek het ‘n SMS boodskap gekry wat my in kennis gestel het dat ek vir ‘n kospakkie kwalifiseer en moet nog nege mense kry wat ook daarvoor in aanmerking wil kom. Ek het nie besef dat dit ‘n slenter is nie.”
Enigiemand wat deur die slenter ingedoen is, of wie se persoonlike inligting afgeneem is moet dadelik vir Sassa kontak om hulle kaarte te blokkeer.
Indien die gemeenskap self met Pastoor Callie Venter wil gesels kan hulle hom op 011 953 5780 of op 084 410 3397 kontak.
