“Die politicians het gelieg en nou sit ons en krepeer,” beweer Hugo van Niekerk, bestuurder van die Kroningspark wit plakkerskamp.
Hy sê dat alhoewel die nuus van hul ‘geforseerde hervestiging’ groot opspraak in die media verwek het, geen individu of politieke party hulp of alternatiewe blyplek in plaas van Munsieville kom aanbied het nie.
“Dit na die hele kamp DA gestem het omdat hulle belowe het dat daar na ons omgesien sal word,” sê Van Niekerk.
“Ons is aangery om DA te gaan stem, en wie help nou?” is sy retoriese vraag.
‘n Ander inwoner, Frieda Kemp, 47, sê hulle nooi DA-leier Helen Zille uit om self te kom kyk hoe hulle in die kamp leef en hulle te help met beter opsies.
“Ons sal vir haar koek en tee aanbied,” sê sy.
“As sy mense in die Wes-Kaap kon help, hoekom nie vir ons nie? Ons het dan vir haar gestem,” sê sy.
Volgens Van Niekerk se vrou Irene is inwoners al nege jaar gelede belowe dat hul HOP-huise sou kry.
“Na nege jaar het niks gebeur nie; nou sê hulle ons gaan net tydelik in Munsieville hervestig word tot ons huise kry. Gaan dit ook nege jaar neem?” vra sy.
‘Tydelike hervestiging’ impliseer volgens Hugo dat daar geen lopende water gaan wees nie, iets wat Kroningspark wel het.
Irene spreek haar ook uit teen ander politike partye wat die hervestiging goedkeur en nooi politieke verteenwoordigers om self ‘n nag in Munsieville deur te bring.
Volgens Hugo is 121 staanplekke in Munsieville aan die mense van Kroningspark toegeken maar hy sê dat dit te min is en dat die inwoners weier om geskei te word.
“Ons is ‘n familie, en ons sal ‘n familie bly.”
Hy voeg by dat die grond in dié stadium nie geskik is om op te bou nie.
Irene glo dat die Here haar en die kampinwoners na ‘n beter plek toe sal vat. “My God sal ons nie in ‘n gevaargebied instuur nie, daarvan is ek oortuig,” eindig sy.
https://www.youtube.com/watch?v=y9AoVH3qKfk&feature=youtu.be
