Sassa gee terugvoer oor slenter
Die woordvoerder van Sassa sê dat hulle hartseer oor die saak is en beklemtoon dat hulle begunstigdes altyd versigtig moet wees.
Die woordvoerder van Sassa (South African Social Security Agency) gee sy terugvoer rakende die artikel Bejaardes wees gewaarsku teen Sassa-slenter wat in verlede week se uitgawe van die news verskyn het.
Verskeie bejaardes wat in die Jack Cotton-, President-, Van Riebeeck- en Pionierwoonstelle woon, is ingeloop nadat hulle ‘n SMS-boodskap, wat die news self gesien het, ontvang het wat bejaardes ‘n maandelikse kospakkie beloof. Om daarvoor in aanmerking te kom moet hulle egter die laaste vyf nommers op hulle Sassa-kaarte sowel as hulle identiteitsnommers verskaf.
Die Ruimsig Gemeente en die Nuwe Lewe Aanbiddingsentrum in Krugersdorp-Noord sowel as kerke wat nie bestaan nie, se name is valslik in SMS-boodskappe en deur individue gebruik.
Die woordvoerder, Steve Mabona sê dat hulle hartseer oor die saak is en beklemtoon dat hulle begunstigdes altyd versigtig moet wees met hulle Sassa-kaarte en -besonderhede. Hy noem ook dat dit sowat R20 kos om ‘n kaart te vervang.
“Ons wil graag al die betrokke begunstigdes aanmoedig om hul sake by die polisie aan te meld. Die polisie ondersteun reeds dié wat hulle klagtes indien,” sê Mabona.
Verwante artikel:
• Kerk distansieër hulle van nuwe Sassa slenter
