CrimeNews

Semitjie glo depressief na Ferreira-ongeluk

'n Sielkundige het getuig dat hy Semitjie behandel vir depressie en posttraumatiese stres.

Die Krugersdorp Landdroshof het op 28 Augustus gehoor dat die bestuurder van die blouligvoertuig wat aangekla is vir roekelose en nalatige bestuur, glo aan depressie ly.

Joseph Semitjie het in November 2011 die toé 18-jarige Thomas Ferreira kritiek beseer toe hy met die destydse Gauteng LUR vir Behuising Humphrey Mmemezi se amptelike voertuig, ‘n BMW X5 oor ‘n rooi verkeerslig gejaag het. Ferreira het op sy motorfiets by die Windsor- en Paardekraalweg-kruising op pad Randfontein toe gewag toe die ongeluk plaasgevind het.

Semitjie is skuldig bevind op vier aanklagte, naamlik dié van roekelose en nalatige bestuur, kwaadwillige saakbeskadiging, die versuim om die beseerde te help en dat hy beserings veroorsaak het.

Ferreira was vir weke lank in ‘n koma en het breinskade opgedoen.

Die sielkundige Carl de Jager het getuig dat hy Semitjie behandel vir depressie en posttraumatiese stres. Hy beskou Semitjie as ‘n slagoffer en nie ‘n booswig soos wat in die media voorgegee word nie.

In ‘n vorige hofverskyning het Semitjie glo vir Ferreira die skuld gegee vir die ongeluk. De Jager het daarop geantwoord dat alhoewel hy nie bewus is van die stelling wat Semitjie gemaak het nie, verskeie faktore te blameer is vir wat daardie dag gebeur het en nie net Semitjie alleen nie.

Hy het genoem dat Semitjie onder geweldige druk is en dat daar van hom verwag was om instruksies te volg.

Die hof het ook gehoor dat toe hy vir De Jager die eerste keer gaan spreek het, Semitjie selfmoordneigings gehad het en aan slaaploosheid gely het. De Jager het hom na ‘n psigiater verwys wat vir hom die nodige medikasie kon voorskryf.

Die saak word op 29 en 30 September voortgesit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button