Swembadwater vir was en bad
'n Gesin van Noordheuwel moes soos talle ander inwoners wat sonder water moet klaarkom hulle swembadwater vir wasgoed was en bad gebruik.
Hoe maak ‘n mens wanneer die krane leeg is en gewone huistake en higiëne nie agterweë kan bly nie?
Noordheuwel-inwoners soos Barbara Eksteen en haar gesin word self reeds langer as tien dae deur die watertekorte geraak en moes swembadwater in emmers aandra om klere vir werk en skool te was.
Eksteen sê dié emmertjies werk wel nie so lekker as jy nog jou hare ook wil was nie.
“My seuns bad sommer in die swembad, maar die water is so koud dat hulle nie lank daarin bly nie.”
Sy sê die waterdruk was vir meer as ‘n week lank baie swak en soms was daar glad nie water nie.
“Tans is daar slegs in die aande tussen 7nm en 8nm water.”
Eksteen sê toe sy die talle nommers op Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se webtuiste probeer bel het, het sy slegs op die 107 nommer deurgekom nadat sy dit lank laat lui het.
“Die ander nommers werk net nie!”
Sy sê toe die vrou die foon beantwoord moes sy hoor dat almal kla en dat dit nie die munisipaliteit se skuld is nie, maar nou Eskom s’n is.
“Daar is ook nie watertenkwaens beskikbaar nie, want ‘dit is nie net jy wat sukkel nie’,” moes Eksteen verder hoor.
“Toe ek haar vra wat ons moet doen om water te kry, sê sy daar is nie water nie, so hoe moet hulle dan vir ons water gee?”
Eksteen glo dat die munisipaliteit water moet verskaf omdat belastingbetalers vir daardie diens betaal.
Nkosana Zali, munisipale woordvoerder het in ‘n verklaring gesê dat hulle watertenks beskikbaar gaan stel en dat Rand Water besig is om die probleem op te los.
