Groot pret by jaarlikse kerkbasaar
Daar was iets vir 'n ieder en 'n elk en vermaak in elkeen se smaak.
Dit was ‘n pretdag vir almal – oud en jonk – by die NG Kerk Paardekraal-Monument se jaarlikse basaar die afgelope Saterdag 27 September.
Die motors het die strate om die kerk volparkeer; ‘n goeie aanduiding dat die geleentheid baie goed bygewoon is.

Met geverfde gesigte het kinders rondgehardloop, gelag en heerlik op die springkasteel saam met hulle maats baljaar. Dennis die Nar het die kinders se gesiggies laat ophelder toe hy met sy ratse vingerbewegings kleurvolle ballonne in allerlei figure omskep het.
Vir die volwassenes was daar vermaak in die vorm van ‘n vertoning deur die sanger Gerrie Pretorius wat van sy gunsteling treffers soos Annemarie my skat, Daardie oomblik, Sewe sondes en vele ander gesing het.

Met stalletjies wat pannekoek, boereworsrolle en kerrie-en-rys verkoop het, was daar nie ‘n verskoning vir een maag om van die honger te grom nie.
Nege potjies is vir die potjiekoskompetisie ingeskryf. Jaco Prinsloo, een van die organiseerders van dié kompetisie sê nadat die beoordeling plaasgevind het en die pryse aan die drie wenners oorhandig is, is die inhoud van die potte verkoop.

“Al die geld word in die kerk teruggeploeg,” sê hy.
‘n Teetuin is voor die kerksaal ingerig waar daar met ‘n koppie tee of koffie en ‘n soetigheid lekker saamgekuier is.
Nes al die vorige jare was hierdie basaar weer ‘n aangename, gesellige geleentheid.
