Na meer as sewe jaar van mooipraat om die kanaal, en spesifiek die kanaalwal in Krugersdorp-Wes e herstel, word dit uiteindelik gedoen.
Jakkie Naudé, DA-raadslid vir Wyk 20 sê met die swaar reën wat Gauteng aan die begin van die jaar gehad het, is die kanaalwal verder beskadig. Hy noem dit ‘n tydbom wat wag om te ontplof. Water in dié kanaal vloei van die Blougatspruit by Kroningsdam deur die dorp na die Wieg van die Mensdom.
“Die huise na aan die kanaal is aan die begin van die jaar swaar getref omdat die mure weggespoel het en die huise onder water was.”
Hy sê dit moes toe al vir die Departement van Paaie en Stormwater ‘n aanduiding gewees het om dringend in te gryp om ‘n soortgelyke voorval te voorkom. Dié departement is verantwoordelik vir die instandhouding van hierdie infrastruktuur.
Nadat Naudé in 2007 as raadslid vir Wyk 20 verkies is, het hy die probleem skriftelik onder die departement se aandag gebring. Die vervalle toestand het daartoe gelei dat sommiges dit nou in ‘n stortingsterrein verander het.
“Mense het hulle rommel daarin begin stort en dit het regtig sleg begin lyk. Al wat die verduideliking toe was is dat daar nie geld in die begroting is om dit te herstel nie.”
Naudé sê hy het vir hulle verduidelik dat dit die departement meer geld gaan kos hoe langer hulle sloer om dit reg te maak.
“Uiteindelik het hulle na die noodkrete geluister. Sowat twee maande gelede is kontrakteurs gestuur om die gate reg te maak in die kanaal waarin die kinders van die omgewing dikwels swem om in die hitte af te koel.”
Hy sê selfs die kanaalwal word tans herstel en ekstra walle is by die probleemgebiede gebou om te keer dat die water weer huise beskadig.
“Dit is nou ‘n goeie storie om te vertel.”
