Local newsMunicipalNews

Hoe beurtkrag werk in Mogale

Die beurtkragskedule moet net as riglyn gebruik word aangesien Eskom enige tyd krag kan sny, ongeag wat die skedule stipuleer.

Nadat die land Sondag 2 November deur beurtkrag verontrief is, het die news by Mogale City se bestuurder van energiedienste aangeklop vir ‘n meer eenvoudige verduideliking van die situasie.

Een silo wat steenkool stoor by Eskom se Majuba Kragstasie het Saterdagmiddag gekraak en kort daarna ineengetuimel. Sowat 1 800 megawatt krag het verlore gegaan omdat die steenkooltoevoer onderbreek is.

Frikkie Erasmus het aan die news verduidelik dat Eskom se optrede na die ineenstorting van die silo baie slim was.

“In plaas daarvan dat steenkool op ‘n Sondagmiddag, wat as ‘n nie-ekonomiese dag geklassifiseer word, gebruik word het Eskom dit goed gedink om eerder beurtkrag toe te pas om genoeg steenkool op te bou vir Maandag, die besigste ekonomiese dag vir die land, en sodoende ook vir die res van die week,” sê Erasmus.

Hy verduidelik dat wanneer onverwagte beurtkrag plaasvind, soos Sondag, het Eskom totale beheer oor die land se kragverbruik.

“Eskom kan, vanaf hulle nasionale netwerk, enige dorp se krag afsit.”

Mogale City se hoofkragstasie wat in Kagiso is, is Sondag direk deur Eskom afgesit en Erasmus en sy span se hande was afgekap.

Eskom sal nooit vir langer as twee en ‘n half uur beurtkrag toepas nie, maar dit beteken nie Mogale City werk volgens dieselfde beginsel nie.

“Wanneer krag skielik afgaan sit inwoners nie altyd hulle toestelle, geisers of oonde ook af nie. Sodra die krag weer aankom is die lading onmiddellik so hoog dat dit sommer weer uitskop. In so ‘n geval moet ons fisies uitry na elke substasie om dit weer aan te sit.”

Hy verduidelik dat die beurtkragskedule net as riglyn gebruik moet word aangesien Eskom enige tyd krag kan sny, ongeag wat die skedule stipuleer.

“Inwoners moet verstaan, Eskom probeer nie om inwoners te na te kom nie. Wanneer hulle krag afsny, is dit noodsaaklik omdat die land se verbruik regtig te hoog is.”

Volgens Erasmus is Mogale City besig om stelselmatig elke kragstasie met die jongste tegnologie op te gradeer. Maar dit neem tyd omdat die onderdele verskriklik duur is en omdat dit so lank neem voordat dit afgelewer word.

“Sekere onderdele neem tot 18 maande om by ons uit te kom; om nie eers te praat van die konstante verhoging in koperpryse nie. Dit plaas ‘n geweldige las op die dorp se kontantvloei.”

Gelukkig vir Erasmus en sy span is Mogale City baie tegemoetkomend en daar word elke jaar miljoene rande vir Mogale se elektrisiteitsopgradering begroot.

“Die laaste paar jare het Krugersdorp baie ontwikkel. Streekswinkelsentrums is opgerig en nuwe woongebiede spring orals op. Almal verwag dat die jongste tegnologie in kragvoorsiening sonder moeite ook geïmplementeer moet word.”

Hy meen dan Mogale City besig is om in ‘n metrostad te verander, maar dat die dorp se ou infrastruktuur die proses vertraag.

Op ‘n vraag oor die dorp se kragverbruik het Erasmus gesê dat die inwoners krag baie spaarsamig gebruik.

“Die dorp is gelukkig baie proaktief as dit by kragverbruik kom. Die toekoms van Krugersdorp se kragtoevoer lyk baie goed,” eindig Erasmus.

Verwante artikels:

Mogale releases load shedding schedule

• System remains tight despite no load shedding

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button