‘n Enkellopende vrou van Mindalore sit nou met duisende rande se skade na ‘n tweede waterpyp by haar huis gebars het.
Hannetjie Brits is net mooi keelvol nadat die waterpyp op haar sypaadjie, wat hoër as haar huis geleë is, vir ‘n tweede keer in sowat ‘n jaar gebars het.
Brits woon al 33 jaar in Mindalore en die eerste keer toe die pyp gebars het, is die plafonlatwerk, kombuiskaste en -blaaie, sitkamerstelle, matte, kroeg, koffietafel en nog meer in Brits se huis beskadig.
“Alles is sopnat,” het ‘n gefrustreerde Brits aan die news gesê.
Brits sukkel al die afgelope jaar met die munisipaliteit se waterafdeling se leë beloftes.
“Alhoewel ‘n beampte van die munisipaliteit destyds my gerus gestel het dat hulle die skade gaan dek, moes my versekering vir alles opdok.”
Brits beweer dat die eis eers na ses maande by die munisipaliteit ingedien is nadat sy verskeie navrae daaroor gedoen het.
Nou staan Brits se sitkamer vol bokse met klere en beddegoed in.

Sy beoog om die saak verder te voer en ‘n klag by die Openbare Beskermer se kantoor in te dien, siende dat die Mogale City Munisipaliteit haar nie vir die skade aan haar eiendom gaan vergoed nie.
Toe die news Brits se huis op 17 November besoek het, was ‘n Mogale City-beampte sowel as DA raadslid De Waal Venter daar.
Die munisipale beampte vermoed dat ‘n kraak in die sementwaterpyp die pyp laat bars het en beplan om dit met ‘n PVC-pyp te vervang.
Venter het die skade kom inspekteer nadat hy ‘n oproep van Brits se buurman ontvang het.
“Ek het vroeg die oggend gehoor dat die pyp gebars het en is gevra om te kom help. Ek het die insident dadelik by die waterafdeling aangemeld en hulle het gou daarop gereageer. Die waterpypleiding is afgesluit en die gebarste pyp sal vervang word,” het ‘n hulpvaardige Venter gesê.
