VIDEO: Vallende tak veroorsaak kettingbotsing
Werknemers van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se Parke-afdeling het blitsvinnig die tak uit die pad en van die sypaadjie af verwyder.
Drie voertuie was vanmiddag 20 November in ‘n kettingbotsing in Voortrekkerweg betrokke toe ‘n deel van ‘n bloekomboom se tak afgeskeur het.
Johann Bornman wat ‘n insleepvoertuig bestuur het op die toneel aan die news gesê hy het nog probeer om motoriste oor die boom te waarsku toe die ongeluk gebeur.
Oomblikke voor die ongeluk het hy ook die munisipaliteit laat weet van die tak wat hy gesien val het.
Die stormsterkwind en die reën van die afgelope dae het moontlik tot die voorval gelei.
Carol Murdock, 55, het die boomtak gesien val en met haar voertuig na ‘n ander baan probeer beweeg toe Arturo Joao, 74, in haar vasgery het en sy teen die tak tot stilstand gekom het.
“Die pad was nat en ek het probeer uitswaai toe ek haar voor my sien. Ek het remme aangeslaan, maar dit was te laat toe ek begin gly het,” sê Joao.
Hermina Henning, 58, se bakkie het met Joao se voertuig gebots en geringe skade opgedoen.
Dit wil voorkom of Murdock en Joao se voertuie moontlik afgeskryf sal word as gevolg van skade wat albei motors opgedoen het.
Nooddienspersoneel was gou op die toneel om die bestuurders en passasiers van die motors vir skok en ander beserings te behandel. Daar was gelukkig nie ernstige beserings nie. Die lede van die gemeenskapspolisiëringsforum het ook gou hand bygesit.
Werknemers van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se Parke-afdeling het blitsvinnig die tak uit die pad en van die sypaadjie af verwyder.
Die news sal opvolg of die munisipaliteit wel die hele bloekomboom gaan verwyder.
Vir nog foto’s, kliek hier.
Verwante artikels:
