’n Nuwe woongebied, Mindalore Uitbreiding 9, word beplan.
Inwoners gaan hieroor ingelig word tydens ’n openbare vergadering wat DA-raadslid De Waal Venter belê het. Die vergadering sal in die NG Kerksaal, Richardsonlaan, Mindalore op Vrydag 28 November om 8nm gehou word. Amptenare van die stadsraad en die ontwikkelaar se stadsbeplanner is ook genooi om vrae te kom beantwoord.
Die woongebied sal aangelê word aan die weste- en suidekant van Hoërskool Bastion. Daar word net meer as 228 wooneenhede beplan en tot 5 000 vierkante meter word vir ’n laerskool uitgehou. Die groottes van die erwe wissel van 250 tot 440 vierkante meter.
Volgens die ontwikkelaar is die woongebied ontwerp om aan te pas by die res van Mindalore. Hy sê huise daar sal vergelykbaar wees met huise in die gevestigde woongebied.
Die nuwe uitbreiding grens aan die spruit maar die vloedlyn is in ag geneem sodat daar nie probleme sal ontstaan met oorstromings nie. Die grond is geregistreer in die naam van Active Green Developments BK en die ontwikkeling sal deur Cosmopolitan Projects gedoen word. Daar word beplan om Nassaustraat te verleng, wat Vaalrylaan sal word wat tot by Chamdor loop. Dit behoort die verkeersdruk in Van Lillstraat aansienlik te verlig.
’n Inwoner van Mindalore, Jimmy Erasmus, het aan Venter gesê hy verwelkom die voorgenome uitbreiding.
“Omdat die oop veld bebou sal word, sal dit help om misdaad te bekamp aangesien toegang van buite beperk sal word.”
Venter vra dat mense die vergadering bywoon en hulle vergewis van die voorgenome ontwikkeling. Hulle kan insette lewer en vrae direk aan die ontwikkelaar rig.
