Local newsMunicipalNews

Kragmeter-sage dalk nou verby

Inwoners is ingelig dat hulle hul voorafbetaalde kragmeters sal kry en ook dat hulle hul kragskuld sal kan afbetaal.

Die meerderheid van die nuwe voorafbetaalde kragmeters is reeds in West Village herinstalleer.

Groot ontevredenheid het sedert Maart in hierdie woonbuurt geheers toe die ou voorafbetaalde kragmeters met gewone kragbokse vervang is.

Tydens ‘n vergadering met Chris Grobler, eienaar van West Rand Power Distributors wat ingevolge ‘n lisensie krag aan West Village se inwoners verskaf, het inwoners vir ‘n laaste keer duidelikheid probeer kry oor hoe die nuwe sisteem gaan werk en ook hoe die ou kragskuld afbetaal gaan word.

Hierdie vergadering is deur inwoners gereël en is ook bygewoon deur Patrick Sindane, ‘n lid van die Ekononiese Vryheidsvegters (EFF) in die provinsiale wetgewer.

“Ons verwag nie dat die inwoners die skuld dadelik moet betaal nie, maar dat hulle vooraf reëlings met ons moet tref oor hoe dit gedoen gaan word,” het Grobler gesê.

Gedurende die vergadering het hy verduidelik dat inwoners hulle skuld maandeliks sal kan afbetaal wanneer hulle voorafbetaalde krag koop.

‘n Gedeelte van die eenhede wat hulle koop sal afgetrek word om die skuld te delg, met ander woorde as daar R1 000 se voorafbetaalde krag gekoop word en daar is besluit op ‘n 20 persent terugbetaling sal net R800 se krag beskikbaar wees.

Inwoners het ook genoem dat daar rekeninge is wat verkeerde bedrae toon. Grobler het gesê daar sal ondersoek ingestel word of dit wel so is.

Oor die niewerkende straatligte, wat steeds ‘n groot kommer vir inwoners is, het Grobler verduidelik dat hulle eers krag daarheen kan versprei sodra die munisipaliteit die ligte weer in ‘n werkende toestand kry omdat dit “‘n munisipale kwessie is.”

Vir nou blyk dit of die inwoners tevrede is met die feit dat hulle voortaan weer voorafbetaalde kragmeters sal hê.

Verwante stories:

Skuif kleurgrens opsy vir dienslewering

Kragmeters kom terug

Groot gejuig ná inwoners stryd teen kragvoorsiener wen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button