Stokke swaai vir renosters
Sowat 100 spelers was deel van die dag se verrigtinge by die Krugersdorp Gholfbaan.
“Al hoe ons die toenemende renosterstropery gaan stopsit is wanneer ons saam hande daarteen vat.”
Só het Brian Swarts, eienaar van die Brian’s Supermarket franchise in Krugersdorp gesê na afloop van ‘n suksesvolle gholfdag wat hulle saam met BB Cement by die Krugersdorp Gholfbaan gehou het.
Sowat 100 spelers en 24 spanne het die dag saam met hulle deurgebring en altesaam R33 000 is ingesamel wat aan die organisasie Stop Rhino Poaching gegee gaan word. Hierdie niewinsgewende organisasie beywer homself daarvoor om renosterstropery hok te slaan deur veral wildsplase waar renosters aangehou word en wildbewaarders met toerusting te help om renosterstropers en renosters wat gestroop is vinniger op te spoor.

“Dit was die eerste gholfdag wat ons gehou het en beslis ook nie die laaste een nie,” het Swarts gesê.
Hy het gesê hy het besluit om betrokke te raak omdat hy wil verhoed dat sy kinders eendag die geleentheid ontneem word om hierdie statige diere self te kan sien.
“Dit gaan alles daaroor om mense bewus te maak dat hierdie diere vinnig aan die uitsterf is as ons nie iets gaan doen om die stropery te stop nie.”
Swarts het gesê hulle beplan reeds ‘n gholfdag vir volgende jaar en glo dat dit nog groter sal wees.

Hy het gesê hy en Jan Breytenbach van BB Cement het besluit om meer betrokke te raak omdat hulle albei ‘n hart vir diere het.
“Mense kan na hulleself omsien, maar diere het nie hulle eie stem nie – ons moet hulle stem wees.”
Swarts het in die verlede reeds tot die organisasie Stop Rhino Poaching bygedra deur ‘n losie by Ellispark Stadion beskikbaar te stel toe die Bokke en die All Blacks daar kragte gemeet het.

‘n Sesmaande bewusmakingsveldtog is ook by sy snoepwinkels by skole gehou waar bandjies en bandanas met die organisasie se naam daarop verkoop is.
Volgende jaar sal ‘n gedeelte van die opbrengs van springmielies wat Brian’s lewer en verkoop aan die organisasie geskenk word is.
“Om hierdie dinge te doen is die enigste ammunisie wat ons het om renosterstropery vas te vat,” het Swarts gesê.
Aan die einde van die gholfdag is verskeie pryse uitgedeel en ‘n verskeie items opgeveil.
Verwante artikesl:
• ‘n Renosterverjaarsdag vir Annika
• Lombard hoof vorder duisende in vir renosters
