Verlede jaar het die inwoners van West Village voor die stadsaal betoog oor Mogale City stadsraad se swak dienslewering.
Na herhaalde versoeke is ‘n vergadering met die inwoners van West Village en ‘n verteenwoordiger van die plaaslike raad belê.
Sekere sleuteldepartemente is ook gevra om verteenwoordigers te stuur. Die vergadering is egter net bygewoon deur die verteenwoordiger van Mogale City, die raadslid vir Krugersdorp-Wes Matthys van Tonder en die lede van die West Village gemeenskapsforum. Die verskoning dat die vergadering te na aan die begin van die verloftydperk van die plaaslike raad belê is, is egter gebruik om die afwesigheid van die sleuteldepartemente te verduidelik.
Nadat Van Tonder sy misnoeë te kenne gegee het, het hy voorgestel dat ‘n vergadering vir vroeg in 2015 belê word.
Na herhaalde opvolgoproepe en besoeke is die vergadering vir 23 Januarie belê, maar weer het die plaaslike raad se traak-my-nieagtige houding Van Tonder se bloed laat kook.
“Toe ek instap by die vertrek wat vir die vergadering bespreek is, het daar nog vuil koffiekoppies op die tafel gestaan van ‘n vorige dag se vergadering. Die tafeldoeke was vuil en in ‘n swak toestand,” het hy gesê.
“Slegs die persoon wat die speaker se kantoor verteenwoordig, ek en die lede van die gemeenskapsforum was weer daar. Die amptenaar wou die notule op ‘n los, effens verweerde vel A4-papier neerskryf. Het die raad geen respek vir die kiesers van Krugersdorp nie?” wou Van Tonder weet.
Sy vraag of die munisipale bestuur geen gesag of beheer oor die amptenare het nie, kon nie eers deur die amptenaar van Mogale City beantwoord word nie.
Die vergadering het skaars begin toe gemoedere begin hoog loop het en die lede van die gemeenskapsforum uitgestap het.
“Het die ANC-regering so arrogant geraak dat hulle nie eers ‘n vergadering met die gemeenskap ernstig opneem nie?
“Ek gaan dit nie hier los nie, ons moet die skuldige mense voor stok kry en hulle sal moet verantwoording doen,” het ‘n ontstelde Van Tonder gesê.
“As die DA Mogale City beheer het, sou dit nooit gebeur het nie. Maar moenie my woord daarvoor neem nie, gaan kyk na Midvaal. Kyk of hulle plaaslike raad so laks is, en besluit dan self of die DA nie ‘n beter keuse is nie.”
Verwante artikels:
• Skuif kleurgrens opsy vir dienslewering
• Mogale City kan nie help, sê DA
