Die sakekern is die hartklop van Krugersdorp, maar nou word dit wéér deur walgplakkers ontsier.
Dehlia van Staden, direkteur van die Wes-Randse Sakekamer en Toerisme het gesê ‘n petisie is opgestel om die Mogale City munisipale bestuurder te dwing om die verordeninge toe te pas deur oortreders vas te trek wat die dorp ‘met plakkers besoedel’ wat onwettige aborsies en penisvergrotings adverteer.
“Die kontaknommers van hierdie persone is op elke plakker, maar steeds kan die munisipaliteit nie daarin slaag om hierdie persone aan te keer en aanspreeklik te hou nie. Dit sal ook vir ander wat dit oorweeg ‘n waarskuwing wees aangesien sulke tipe gedrag dan nie toegelaat sal word nie.”
Sy het gesê ‘n manier om dit te doen is om die persone vir die volle bedrag te beboet wat dit die munisipaliteit gekos het om dit van die stadsraad se eiendom te verwyder.

“Dit is nie net ‘n oortreding van die verordeninge nie, maar ook ‘n kriminele oortreding om die eiendom van die raad te ontsier.”
Van Staden het gesê hulle probeer gereeld om die sake- en toerismebedryf in die dorp te bevorder, maar hierdie tipe gedrag bemoeilik dit vir hulle.
“Ons was so trots en opgewonde toe ons sien dat die munisipaliteit die sakekern skoonmaak en al hierdie plakkers van die verkeersligte en elektriese bokse op die sypaadjies afgehaal het.”
Sy het gesê hulle bestee soveel tyd om die dorp te bemark sodat dit vir besighede en toeriste aanloklik kan wees, maar dat hierdie plakkers die wanindruk skep dat die dorp eintlik vuil is en niks het om te bied nie.
“Daarom het ons ‘n petisie wat die rondte doen sodat ons kan wys dat dit wel ‘n probleem is wat moet aandag kry,” sluit Van Staden af.
