‘n Inwoner van Yorkstraat in Luipaardsvlei kan nie eens kuiermense oornooi of dit waag om sy kombuisvenster oop te maak nie omdat ‘n rioolreuk dit verhinder.
Marius Hattingh verduidelik dat die reuk van sy bure afkom as gevolg van ‘n moontlike geblokte rioolsisteem wat daartoe lei dat die riool van die bure se verstopte dreine in hulle erf en selfs in die pad uitloop.
“Dit is reeds vir langer as ses maande ‘n probleem en die munisipaliteit het aan ons gesê daar is niks wat hulle omtrent die situasie kan doen nie omdat dit nie op munisipale eiendom geleë is nie.”
Hy het gesê intussen kry hulle al die reuke in hulle erf en wil hê iets moet omtrent die situasie gedoen word omdat dit ‘n gesondheidsrisiko inhou.

“Intussen gooi ons skoonmaak- en lekkerruikmiddels oor die grasperk net om van die reuk ontslae te raak,” het Hattingh gesê.
Kabazele Mwakwihag, eienaar van die huis van waar die riool uitloop het gesê die munisipaliteit het laat weet dat hulle gaan uitkom om na die een deel van die rioolgat te kyk.
“Hulle gaan dan die riool daaruit pomp. As dit dan lyk of die pype verstop is, sal ek op eie onkoste die pype in my erf moet oopgrawe om te kyk waar die probleem is.”
