Local newsNews

Groot herdenkingvieringe by Goudrif

Groot vieringe is vir hierdie naweek beplan.

Die Evangelies-Gereformeerde Gemeente Goudrif vier vanjaar sy 25-jaar herdenking.

Die gemeente is in Maart 1990 gestig onder leiding van wyle ds Johan Tolken. Die herdenkingvieringe skop Saterdagaand 21 Maart om 6nm af met ‘n dinee gevolg deur ‘n sangoptrede deur die bekende gospelsanger, Leon Ferreira.

Sondag 22 Maart om 8.45vm word die verrigtinge voortgesit met ‘n dank- en aanbiddingsdiens waar vorige leraars ds Marius van Jaarsveld, tans van Ruimsig-gemeente en ds Hendrik van Rensburg, tans in Tzaneen, ook teenwoordig sal wees. Die gemeente word die afgelope 12 jaar deur ds Johan en Annette Besselaar bedien. Sondagaand word die verrigtinge afgesluit met ‘n jeugbyeenkoms gelei deur Shaunn Schoeman.

“Ons wil as gemeente op hierdie wyse ons dankbaarheid betoon teenoor ons Here Jesus, die Hoof van ons gemeente, vir Sy genade en instandhouding die afgelope 25 jaar. Ons kon in hierdie tyd ‘n groot aantal mense aan die Wes-Randse gemeenskap bereik met onder andere Woordbediening en hulpverlening en glo ons kon ‘n bydrae lewer tot baie se geestelike groei,” sê Johan.

“Ons het intussen tot ‘n standvastige en lewenskragtige gemeente ontwikkel wat graag steeds die gemeenskap wil dien met die liefde van Jesus. Ons kyk met vertroue en hoop vorentoe omdat ons weet dat Hy wat ‘n goeie werk begin het dit sal voleindig tot op die dag wat Hy weer gaan kom. Ons wil ook hierdeur die gemeenskap van Krugersdorp, waarin ons bevoorreg was om te dien, bedank vir hul ondersteunende gesindheid en uitnooi na die geleenthede. Ons sal graag oudlidmate en vriende ook weer wil sien.”

Kaartjies vir Saterdagaand is beskikbaar as volg:

• R135 pp vir die dinee en sangoptrede direk na die ete en R50 pp vir slegs die sangoptrede om 8nm

• Sondagoggend is gratis en almal is welkom. Enige navrae kan aan ds Johan by 011 955 1488 gerig word.

Die kerk is op die hoek van Frederick Cooperrylaan en Elphinweg, Kenmare.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button