Marcelle se reis na die titel
Die Krugersdorpse skoonheid jaag die kroon na; maar vir 'n goeie doel.
Ontmoet vir Marcelle Allison, een van die top 100 Mevrou Suid-Afrika 2015-finaliste.
Die reis na die titel is een wat Marcelle nog altyd geweet het sy moes onderneem, en hoop dit sal haar help met die vele liefdadigheidsprojekte waarmee sy besig is.
Hierdie ma van drie het besluit om vir die Mev Suid-Afrika-kompetisie in te skryf om haar in staat te stel om nog meer mense te help.
“Ek het al eerstehands gesien hoeveel nood daar in ons eie gemeenskap is.”
En vir haar gaan dit nie oor die aanloklike roem en glans nie, maar om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
Marcelle en haar man, Chris, het onlangs ‘n jong man in hulle huis ingeneem en hom deur sy matriekjaar en met sy studie in Tegnologie gehelp.
“Dit was ‘n enorme seën om die pad saam met hom te kon loop,” vertel die skoonheid.
Marcelle is betrokke by die liefdadigheidsorganisasie 12 Baskets wat komberse na Malawi uitvoer en spotgoedkoop aan die inwoners verkoop sonder om enige wins te maak.
Vir die Mev SA-kompetisie word Marcelle saam met die ander 99 semifinaliste, uitgedaag om koppies koffie of tee ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Cuppa 4 Cansa-veldtog te verkoop.
“Kansa lê my baie na aan die hart, siende dat ek my ma weens kanker verloor het,” vertel sy.
Omdat sy die kanker-pad saam met haar ma gestap het, verstaan sy die hartseer en uitdagings wat met die siekte gepaard gaan.
Die Krugersdorpse skoonheid sien uit na die Kansa Gala-ete wat op 24 April by Emperors Palace plaasvind en waar die top 25 finaliste aangekondig word.
Behalwe dat Marcelle sowat R5 000 se fondse moet insamel en gasvrou moet speel vir ‘n tafel van 10 vir die dinee, het sy die ondersteuning van die gemeenskap broodnodig.
“Ek het stemme nodig,” sê sy ernstig.
Marcelle glo sterk daaraan, “dit is in die oomblikke van jou keuses waar jou einddoel gevorm word”.
Volg haar op facebook en stem vir haar op die Mev Suid-Afrika facebook-blad by www.facebook.com/MrsSouthAfrica of sms haar naam na 35959 om vir haar te stem.
