Waarheen met Bob van Reenen?
Met dié dat Ruimsig Stadion in Roodepoort ook vir opknappingswerk gesluit is, kan 'n mens net wonder waar die Wes-Rand se atlete nou gaan oefen.
Ten spyte daarvan dat die Bob van Reenen Stadion reeds in 2013 ‘n inspuiting van R10 miljoen vir opknappingswerk ontvang het, is werk daaraan steeds nie afgehandel nie.
In die Stadsrede wat Mogale City se Burgemeester Koketso Calvin Seerane onlangs gelewer het, is daar weer melding gemaak van dié geld wat destyds deur die Gauteng Provinsiale Raad voorgeskiet is.
“Ten opsigte van die stadion het die munisipaliteit reeds R10 miljoen bestee aan die herstel van water- en elektrisiteittoevoer. Dit sluit nie in wat ons reeds herstel het nie. Gesprekke is tans met die Departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning gevoer om addisionele fondse beskikbaar te stel sodat die opknappingswerk by dié stadion kan voortgaan,” het Seerane gesê.
Maar nêrens in dié Stadsrede word daar iets genoem van ‘n deel van die R85 miljoen begroting wat in die Gauteng Provinsiale Raad se 2013/2014 finansiële jaar onder andere vir die herstel van die Bob van Reenen Stadion beskikbaar gestel is nie.
Daar is ook nie melding gemaak van ‘n deel van R314 miljoen wat tydens die 2014/2015 begroting bewillig is nie.
Amanda de Lange, ‘n Vryheidsfront Plus raadslid vir Mogale City het gesê dit is hartseer om te sien hoe ‘n eens spog sportstadion in die afgrond in bestuur is en dat dit wat die raad sê nie ooreenstem met dit wat werklik by die stadion aan die gebeur is nie.

Sy het gesê al is daar duidelike kennisgewings wat die publiek verbied om die terrein te betree omdat daar nog gebou word, is ‘n kerk vroeër vanjaar toestemming gegee om ‘n saamtrek daar te hou.
Die News verstaan dit is reeds die derde soortgelyke byeenkoms sedert daar verlede jaar in Augustus daaroor berig is.
“Dit is ‘n gevaarsone! Groot elektriese kabels wat krag aan die oorhoofse spreiligte voorsien, steek bo die grond uit. Oop kragkabels hang oral binne die geboue onder die paviljoen.”
Met foto’s wat sy geneem het, het Amanda gewys hoe die nuwe wasbakke en toilette reeds stukkend geslaan is. Die stortkoppe en krane is uit die mure geruk.

“Verder lê daar oral gebruikte kondome en vullis in die leë vertrekke rond en die stank wat van die gebruikte toilette wat nie gespoel kan word nie, is ondraaglik!”
Sy het gesê sy kan nie verstaan hoe die munisipaliteit kan toelaat dat ‘n kerk funksies op die stadion se gronde hou terwyl die res van Krugersdorp dit nie mag benut nie.
‘n Werknemer van die Krugersdorp Brandweer, wat net langs die stadion geleë is, het op voorwaarde van anonimiteit gesê selfs hulle mag nie eens op die gronde oefen nie.
De Lange het gesê die stadion is veronderstel om ‘n vlagskip vir sport aan die Wes-Rand te wees, maar jare se beloftes en ondernemings deur die raad asook die Gauteng Provinsie het tot dusver op niks uitgeloop nie.
Daar is fondse vir werk aan die stadion bewillig, maar daar is nog niks aan die stadion self gedoen nie. Dit nadat die voormalige LUR van Sport en Ontspanning, Lebogang Maile asook die voormalige Premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane by verskeie geleenthede vol beloftes en ondernemings was om die eens glorieryke tartanbaanstadion in sy volle glorie te laat herleef.
Patrick Sindane, ‘n Ekonomiese Vryheidsvegters-lid (EFF) van die provinsiale wetgewer het op sy beurt aan die news gesê dat hulle hierdie saak in die wetgewer gaan aanroer veral nadat daar aan hom verduidelik is dat die Ruimsig Stadion in Roodepoort ook nou gesluit is vir opknappingswerk.
“Ek dink dit is onaanvaarbaar dat die stadion vir ander geleenthede gebruik word as waarvoor dit bedoel is. Ek vermoed daar is ‘n paar mense wat besig is om geld uit die stadion te maak – ek vermoed beslis onraad.”

Hy het voorts gesê dit is tyd dat kritiese vrae gevra word oor wat presies met die vorige befondsing gedoen is wat veronderstel was om vir die opknappingswerk gebruik te word.
“Tweedens, ons mense en veral kinders het geen sportfasiliteite in die area nie en ook geen ander ontspanningsgeriewe waarheen hulle kan gaan nie. Die stadion is veronderstel om opgeknap te word sodat die gemeenskap dit kan gebruik, so iemand moet verduidelik wat aangaan.”
Die News het verlede jaar by die kontrakteur Tauris Garden Trading (TGT), ‘n maatskappy wat 100 persent deur vroue besit word, gehoor hulle kan nie met hulle werk voortgaan nie omdat ‘n substasie, moontlik binne die stadion, buite werking is.
Daar is ook probeer om ‘n onderhoud met Nkosana Zali, munisipale woordvoerder te reël, maar hy het gevra dat vrae oor die stadion eerder vir hom aangestuur moet word. Weke nadat dit gedoen is, het hy steeds nie gereageer nie.
Dit is reeds meer as agt jaar sedert die stadion in ‘n vervalle toestand gelaat is nadat planne om ‘n spogstadion van R1,2 biljoen vir Kaizer Chiefs Sokkerklub te bou nooit gematerialiseer het nie.
In Mei 2013 het die destydse Gautengse Premier Nomvula Mokonyane belowe dat meeste van die werk by die stadion reeds in September daardie jaar voltooi sou wees.
