Inwoners is nou net mooi keelvol nadat verskeie padtekens in Noordheuwel deur vandale vir ‘n tweede maal hierdie jaar verwyder is.
Vroeër vanjaar is ‘n groep stoute skoolseuns gevang toe hulle een aand besig was om ‘n paar stoptekens in die area te verwyder.
Met die instemming van hulle ouers is die seuns vir hulle dade beboet en het die volgende dag met sement die tekens by hulle plekke gaan herplant.
Sowat twee weke gelede het ‘n nuwe groep seuns, glo studente wat ‘n huispartytjie in die area gehou het, ook die strate ingevaar en tekens begin verwyder.
Die seuns was op heterdaat deur lede van die Sektor 4 Gemeenskapspoliëringsforum (GPF) betrap waar hulle stoptekens en straatname uit die grond uit ruk.
Die seuns het toe vinnig in ‘n huis in gevlug waar patrolleerders hulle heen gevolg het.
Patrolleerders, gepaard met lede van EPR en Thompsons sekuriteit het by die huis opgedaag waar die partytjie plaasgevind het.
Hierdie maal het ‘n pa van een van die seuns, wat by die huis was, onskuldig namens die seuns gepleit en die lede by die huis weggewys.
Serdert die verwydering van die stoptekens in die area, was daar al amper ‘n paar ongelukke omdat motoriste nie by die stopstrate stop nie as gevolg van die afwesigheid van die tekens.
Die eensame stoptekens en straatname lê ‘ontwortel’ op verskeie straathoeke in Noordheuwel.
