Local newsNews

Met die helm gebore?

Die lotto nommers kan sy nou nie 'sien' nie, maar van jou 'spoke' kan sy jou baie vertel.

Krugersdorp se skindertonge het geklap nadat Barbara Eksteen haar advertensie op haar motor se agtervenster verander het.

Haar advertensie lees dat sy ‘n psigiese medium is wat geliefdes kan help om afskeid te neem. ‘n Gawe wat mense sê is buite hierdie wêreld.

Op aankoms by haar huis in Noordheuwel verwelkom sy die nuuskierige News-joernalis Marizka Coetzer met ‘n koppie koffie, en met duisende vrae wat in die lug hang.

Sy vertel hoe sy kan onthou hoe sy van bitter kleins af ‘goed’ kan voel en rondom haar ‘sien’.

“Wie’s dit?” en “Hoor mamma dit,” kan sy onthou het sy dikwels vir haar ma gevra toe sy sowat vyf jaar oud was.

Sy het in ‘n Christelike huis groot geword, en haar gawe was maar vergaande vir haar ouers, wat haar dikwels na elke dominee en priester geneem het vir raad.

“Maar wanneer ons weer by die huis kom, het ek dieselfde gevoel,” vertel sy.

‘n Duiweluitdrywing of twee het ook nie gewerk nie en nou het die ma van vier, na jare se stilte, geleer hoe om haar gawe te gebruik om ander te help.

Sonder enige moeite of raai, sien Barbara geheime van die siel wat haar instaat stel om ander te help.

Wanneer sy swart sien na haar toe hardloop bedoel dit dat daar dood in die omgewing is, en wit simboliseer siekte.

“Ek het my eie siekte ook gesien, die wit het my bly rond volg,” vertel sy toe sy kanker gehad het jare gelede.

Die vreemde gebeurtenisse het steeds aanhou bly gebeur.

“My eks-man wou my self ‘groendakkies’ toe gevat het,” spot sy.

Vir baie lank het Barbara weer stilgebly, totdat sy haar nuwe lewensmaat ontmoet het.

“Ek hou glad nie van die duiwel nie, ek kyk nie eers films wat daaroor gaan nie,” sê sy ernstig.

Sy het haar man finaal oortuig van haar gawe na sy pa se dood, en sy hom gehelp het om ‘n raaisel rondom sy dood op te los. Sy pa het voor sy dood ‘n bedrag geld getrek wat spoorloos verdwyn het, en die gesin het haar toe uitgedaag om haar gawe te gebruik om dit te help opspoor, en tot haar eie verbassing het sy daarin geslaag.

Hy het haar toe geleer om haarself te aanvaar en haar gawe te gebruik.

“Ek het selfs nie eers geweet wat noem ‘n mens iemand soos ek nie.”

Sy het dit aan die News duidelik gemaak dat sy nie ‘n heks of ‘n duiwel is nie, en slegs aan een God glo.

Haar gawe sluit in om drome te ontleed, met oorledenes se siele te gesels en oë te kan lees.

“Dit is nie altyd maklik nie,” sê sy met trane in haar oë, soos sy die News van verskillende slegte ervarings vertel.

Niemand is perfek nie, meen sy terwyl sy verduidelik dat sy slegs mense help met haar gawe en nie daarvan hou om as ‘n waarseêr gemerk te word nie omdat sy glo elkeen is in beheer van sy eie lewe.

“Diep in my hart glo ek my gawe kom van God af,” sê sy nederig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button