Local newsNews

Program wil mans sy rol in samelewing terug gee

"Daardie rol waar hy in beheer van die huishouding moet wees, waar besluite oor veral sy lewe, huwelik, loopbaan en sy kinders gemaak moet word, is besig om te krimp."

Hulle het een doel voor oë en dit is om die man weer sy regmatige plek in die samelewing terug te gee.

André Barnett, ‘n sakeman in Krugersdorp het daarom met die hulp van verskeie rolspelers vanjaar met ‘n program The Calling begin wat as ‘n vertakking by die Cebo Siloam-stigting, ‘n nie-winsgewende organisasie, ingelyf is.

Dié program, het hy gesê, het lankal reeds by hom opgeklink, maar elke keer het hy dit uitgestel.

“Soos tyd verby gestap het, het dit al hoe meer duidelik geword dat dit iets is wat God wil hê ek moet doen, ek moet ‘n program soos hierdie stig sodat sy werk daardeur lewe kan kry en kan groei.”

Hy het gesê The Calling is presies dit wat die naam uitbeeld, dat mans wat die pad byster geraak het, weer sal kan opstaan.

“Die rol van die man is besig om te verdwyn. Daardie rol waar hy in beheer van die huishouding moet wees, waar besluite oor veral sy lewe, huwelik, loopbaan en sy kinders gemaak moet word, is besig om te krimp.”

André verduidelik voorts dat vandag se lewe dit baie moeilik maak om al hierdie dinge in te pas.

“Elke man weet hy is gemaak om in ‘n stryd te kan baklei en hy is veronderstel om steeds daardie veggees in hom te hê. Daarom moet elke man ‘n stryd hê waarin hy kan baklei, maar hy moet eers sy hart weer daarop ingestel kry dat hy ‘n vegter is.”

Dit is waaroor die program gaan het André gesê.

“Met ons program wil ons die man help om weer in beheer van sy lewe en almal daarin te wees.”

Daniel Nel, is een van die eerste manne wat André reeds van sy die kronkelpad tot op die reguit pad gelei het.

“Ek was ‘n suksesvolle sakeman, maar deur verkeerde besluite in die lewe het ek my rol as die man van my huishouding verloor,” het Daniel gesê.

Hy is een van verskeie inwoners van Krugersdorp wat in die dwelmbedryf betrokke geraak het as ‘n manier om ‘n ekstra inkomste te verdien, maar dit het daartoe gelei dat hy alles wat hy in die lewe gehad het, eenklaps verloor.

“Sakemanne wou nie meer met my sake doen nie. Dit het toe so gebeur dat ek ‘n hele handelstransaksie verloor het wat my finansieël geknak het.”

Vandag het hy weer lus vir die lewe en is hy bereid om die beste pa vir sy vier kinders en ‘n beter man vir sy vrou te wees.

John Barnardt het gesê God het hom op die pad van The Calling gelei en hy sien daarna uit om saam met ander mans Geestelik vervul te word.

Manne wat vernuwe wil word, word die geleentheid gebied om saam met hulle en nog ander mans The Calling se nasorgsentrum Lodge Siloam Village by die Gariep Dam in die Oos-Kaap te besoek.

“Sodra dié mense hier weg stap glo ek dat hulle met ‘n baie positiewer beeld die lewe sal wil aanpak,” het André gesê.

Manne wat hierdie program gratis van 24 tot 26 April wil bywoon of meer inligting benodig kan die koördineerder Estelle Barnett op 081 271 3998 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button