Maimane werf steun in Krugersdorp
Daar word hierdie naweek 'n nuwe DA-leier tydens 'n kongres in Port Elizabeth verkies.
“Dit is baie lekker om hier te wees!”
Met hierdie woorde het Mmusi Maimane, parlementêre DA-leier en kandidaat vir die party se leierspos, DA-afgevaardiges Woensdag 6 Mei in Afrikaans by die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum in Krugersdorp-Wes verwelkom.
Hier het hy sy poging om steun onder dié afgevaardiges te werf, voortgesit voor daar oor die naweek ‘n nuwe leier tydens ‘n kongres in Port Elizabeth gekies gaan word.
Maimane, ‘n oud-Krugersdorper wat in die Leratong Hospitaal gebore is en jare lank woonagtig in Monument was, het nie doekies omgedraai oor sy visie vir die DA as hy as leier verkies sou word met onderwys en werkskepping wat sonder twyfel voorkeer gaan geniet.
“Ek glo dat wanneer die DA daarin sou slaag om dit te bewerkstellig sal Suid-Afrika ‘n beter land vir ons almal word. Ons almal wil hê Suid-Afrika moet welvarend wees met ‘n goeie onderwysstelsel en werksgeleenthede vir almal.”
Volgens Maimane is die indruk wat ‘n mens van die ANC, die regerende party kry, dat Jacob Zuma se R250 miljoen Nkandla-woning dié party se grootste mislukking is.
“Dit is nie! Dit is eintlik die minderwaardige onderrigstelsel wat hulle op ons afdwing,” het hy met toejuiging van die gehoor gesê.
Hy het voorts gesê Suid-Afrika het baie geleenthede, soos veral entrepreneurskap wat nog moet blom wat daartoe sal lei dat geleenthede vir almal geskep kan word.
Maimane het ook verduidelik waarom hy gekant is teen die doodstraf en waarom hy gay regte openlik steun.

“Ek het self al ‘n gay egpaar in die huwelik bevestig. Ons is ‘n liberale party wat almal se ideale en lewensuitkyke deel afgesien van kultuur, godsdiens, taal en velkleur.
“Ons moet ‘n atmosfeer skep waar ons mekaar kan leer verstaan.”
Oor die skending van geskiedkundige bakens soos standbeelde en die Ekonomiese Vryheidsvegters se poging om geskiedenis te wil laat herskryf het hy gesê dat dit niks in enigiemand se sak sal bring nie.
“Daar moet ‘n nie-rassige samelewing gebou word, en om standbeelde te skend en te vandaliseer gaan nie help nie. Pleks bou ons meer standbeelde en gee almal die kans om hulle geskiedenis te vertel.”
Hy het afgesluit deur vrae van die afgevaardiges te antwoord en het gesê hy is oortuig daarvan hy is in staat om die DA nog verder te laat groei.
“Ons sal nooit Helen Zille se aanddeel as party-leier vergeet nie, want sy was ‘n fenomenale vrou wat hierdie party reeds na hoër hoogtes geneem het.”
