‘n Huisgesin in Agavia is keelvol vir die gedurige kragonderbrekings wat hulle soms tot twee keer per dag ondervind — en dis nie eers Eskom se beurtkrag waarvoor hulle keelvol is nie.
Gerda Fourie wat saam met haar gesin in Bornebushstraat woon het gesê sy haat dit as haar lewe onderbreek word, maar haat dit nog meer as onbeplande kragonderbrekings plaasvind.
“Verlede Dinsdag (19 Mei) was ons tot byna 10 ure afgewees. Ander kere is ons tot twee keer per dag af en dit laat my wonder wat aangaan,” het sy gevra.
“Die munisipaliteit wil nie antwoorde verskaf nie en sê net vir ‘n mens hulle weet nie hoekom ons meer as gereeld sonder elektrisiteit moet klaarkom nie.”
Dit kos haar sowat R150 per aand om haar kragopwekker van 55watts te laat hardloop en dan word selfs net die ligte, yskaste en ‘n televisiestel daaraan gekoppel.
“Ek het ‘n gastoof om kos gaar te maak en het ook gaslampies. Al my kampgereedskap het ek selfs nou al ingebring omdat ek selfs nie eens meer kan bekostig om die ligte op die kragopwekker te laat hardloop nie.
“Ons maak reeds van energiebesparende ligte gebruik en probeer soveel moontlik krag bespaar deur nie-noodsaaklike toestelle af te skakel, maar steeds word ons gestraf vir ander se foute.”
Sy het dit selfs al oorweeg om sonpanele vir haar geiser te laat installeer, maar dit gaan haar dan R11 000 uit die sak jaag, geld wat sy nie het nie.
As sy kon en die geld gehad het, sou sy nes talle ander Suid-Afrikaners, met Eskom in haar huishouding wil wegdoen.
“‘n Mens is besig om so gefrustreerd te raak met alles om jou. Ek wens Eskom of die munisipaliteit sal begin oopkaarte met ‘n mens speel.”
Verwante artikel:
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
